Gaan-Doen-Sê-Gee: Die Vryheid van Oorgawe Aan JesusVoorbeeld
Ek Sal Gee Wat U Wil Hê Ek Moet Gee
God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het om ons te kom verlos. Om te gee, is in die kern van God se hart vir sy mense. God se liefde is so ineenverstrengel met gee dat dit onmoontlik is om aan die een te dink sonder die ander. Wanneer ons Jesus volg, word ons gelei na plekke van gee wat ons nooit voorheen ervaar het nie.
Jesus was baie bewus van die magnetiese aantrekkingskrag van geld en Hy het ‘n radikale boodskap vir ons gegee: "Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God en Mammon dien nie" (Matteus 6:24). Die najaag na geld is ‘n sterk krag in ons, wat ons daarvan kan weerhou om God ten volle te volg.
Hoe oorkom ons hierdie sterk krag? Dit kom net in werking deur dit weg te gee, en soos ander dele van hierdie gebed, is dit uiteindelik ‘n saak van die hart. Daar is nooit gesê dat om geld te hê opsigself verkeerd of boos is nie. Dit is die liefde vir geld wat die probleem veroorsaak. Alles wat ons het, behoort eintlik aan God. Ons is maar net as korttermyn rentmeesters oor sy koninkryk se bates aangestel om te belê in daardie dinge wat tot eer van sy Naam sal wees. Dus, niks wat ek het is eintlik myne om mee te doen wat ek wil nie.
Een van die lesse wat Israel moes leer terwyl hulle veertig jaar deur die woestyn getrek het, was dat God getrou aan sy belofte is om vir hulle daaglikse brood uit die hemel te voorsien. Jesus vra ons om te bid vir ons daaglikse brood. God sien om na ons en versorg sy mense. Hy wil hê dat ons elke dag van ons lewens sy liefdevolle voorsiening sal ervaar. Hierdie ervaring sal ons help om met vreugde vir Hom en ander dit te gee wat Hy wil hê ons moet gee — nie net ons geld nie, maar ook ons lewens.
Romeine 12:1 verklaar: "Gee JULLESELF aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen." Die beeld kom van die Ou Testamentiese offerstelsel. Ons moet ons hele lewe op die altaar voor God neerlê, insluitende die geld wat ons verdien.
Vrygewigheid vloei uit ‘n vrygewige hart van dankbaarheid teenoor God. Gebruik ‘n bietjie tyd om te dink aan ‘n persoon of saak wat God op jou hart lê om finansieel of met jou tyd te help.
Sal jy vandag gee wat God wil hê jy moet gee?
Aangaande hierdie leesplan
Oorgawe aan Jesus is ‘n lewensbepalende oomblik. Maar wat beteken hierdie besluit en hoe leef ons dit elke dag uit? Is dit slegs vir die groot besluite van die lewe, of vir uiters geestelike mense? Vrees, vorige mislukking en misverstande kan ons terughou. "Gaan-Doen-Sê-Gee" is ‘n belofte/gebed wat verduidelik hoe om die volgende stappe in jou geestelike reis te neem. Ondervind die vryheid wat kom as jy Jesus volg.
More