Gaan-Doen-Sê-Gee: Die Vryheid van Oorgawe Aan JesusVoorbeeld
Here Jesus, Ek Gee My Aan U Oor.
Oorgawe is 'n moeilike woord om te verwerk. Oorgawe klink soos om te verloor, en niemand hou daarvan om soos 'n verloorder te voel nie. Geen wonder dat dit moeilik is om aan God oor te gee nie. Ons menslike instink vertel ons dat oorgawe aan Hom nie in ons guns sal uitwerk nie. Miskien is Hy vir ons kwaad, of dalk verloor ons net beheer oor wat ons wil hê. Maar die Skrif vertel ons dat oorgawe aan Jesus in ons beste belang is.
God het aan Jesus die allerhoogste en volkome gesag oor die hele skepping gegee. Om die knie te buig, 'n teken van onderdanigheid en lojaliteit, is die gepaste gebaar teenoor die koning van die heelal. Ons sien dit in die verhouding tussen konings of koninginne en hulle onderdane. Maar met Jesus as ons heerser, weet ons dat Hy ons met volmaakte, liefdevolle goedhartigheid sal behandel, en dat sy plan en doelwitte vir ons lewens altyd goed sal wees, selfs al is dit soms moeilik en pynlik.
God het ons geskape, en ons ook verlos van die straf en slawerny van die sonde. Hy het aan ons 'n lewe van vryheid en vrugbaarheid belowe. Ons het geen rede om van vrees ineen te krimp oor wat onderwerping aan Hom sal bring nie. Hy het geen begeerte om ons lewens ellendig te maak nie, maar Hy wil hê ons moet 'n koninkryk ervaar wat deur liefde gekenmerk word.
Om Jesus heelhartig te volg, vereis dat ons ons aan Hom onderwerp. Ons kan nie ons eie agenda en Hom gelyktydig volg nie. Om albei te probeer volg, sal net meer spanning skep. Ons weet nie waar Hy ons sal lei nie, maar ons weet wel dat Hy goed en betroubaar is. En Hy het ons vir goeie werke geskape, wat Hy alreeds vir ons voorberei het.
Nou is dit die tyd om aan Hom die leisels te gee om jou lewe na die bes moontlike plek te lei, verder as wat jy jouself kan voorstel.
Die volgende 6 dae is 'n uiteensetting van elke frase van 'n daaglikse gebed van oorgawe aan Jesus, wat jou wandel met Hom dramaties kan verander.
Here Jesus, ek gee myself aan U oor.
Met die krag van U Gees, sal ek …
Gaan waar U wil hê dat ek moet gaan,
Doen wat U wil hê dat ek moet doen,
Sê wat U wil hê dat ek moet sê, en
Gee wat U wil hê dat ek moet gee.
Tot u eer en heerlikheid. Amen.
Is jy bereid om die knie te buig en aan Jesus as jou Verlosser en Heer oor te gee? As daar iets is wat jou terughou, vertel dit vir Hom in gebed, of skryf 'n brief waarin jy verduidelik wat dit so moeilik maak.
Aangaande hierdie leesplan
Oorgawe aan Jesus is ‘n lewensbepalende oomblik. Maar wat beteken hierdie besluit en hoe leef ons dit elke dag uit? Is dit slegs vir die groot besluite van die lewe, of vir uiters geestelike mense? Vrees, vorige mislukking en misverstande kan ons terughou. "Gaan-Doen-Sê-Gee" is ‘n belofte/gebed wat verduidelik hoe om die volgende stappe in jou geestelike reis te neem. Ondervind die vryheid wat kom as jy Jesus volg.
More