Gaan-Doen-Sê-Gee: Die Vryheid van Oorgawe Aan JesusVoorbeeld
Ek Sal Doen Wat U Wil Hê Ek Moet Doen
Om te doen wat God wil hê ons moet doen, kan intimiderend voorkom, dis asof ons God uitnooi om aan ons ‘n lang “taaklys” te gee wat ons nooit sal kan afhandel nie. Hoeveel dinge is daar vir ons om te doen? Waar begin ‘n mens om al Jesus se opdragte te gehoorsaam?
Een ding wat baie duidelik in die Evangelies uitstaan, is dat die mense nie dieselfde oor Jesus gevoel het as oor die Fariseërs nie. Die Fariseërs het geregtigheid gekompliseerd en onbereikbaar gemaak, waarskynlik ook onbegeerlik. In sy Bergrede vereenvoudig Jesus dit alles. In een sin som Hy alles op wat ons moet doen: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete” (Matteus 7:12).
Dit kan jou bedreig laat voel, maar dink bietjie na oor jou dag vandag: jy sal waarskynlik allerhande soorte mense teëkom by die werk, terwyl jy klasloop, vir jou gesin sorg, opdragte uitvoer, of net besig is met die algemene daaglikse take en aksies. Jy mag dalk kontak maak met ander deur sosiale media. En dan is daar nog die informele interaksies soos jy deur jou dag vorder.
Hoe wil jy in elke interaksie gedurende jou dag behandel word? Wanneer ons doen wat Jesus wil hê ons moet doen, sal ons ander net so behandel soos ons behandel wil word. Miga 6:8b gee drie kategorieë wat ons help om prakties te dink oor wat ons doen: behandel ander dat jy reg sal laat geskied, dat liefde en trou bewys sal word, en dat jy bedagsaam voor God sal lewe.
Dit is maklik om te dink dat om te doen wat God wil hê, slegs verwys na unieke of reusagtige take, dalk in ‘n oomblik van krisis. Maar dit is meer dikwels dít wat Hy wil hê ons in die alledaagse en ongesiene oomblikke sal doen. Hierdie klein, daaglikse aksies van oorgee, help dat ons geloof en moed groei. Dit berei ons voor om op te tree soos wat Hy wil hê ons ook in die groter oomblikke moet optree. Dit kan so eenvoudig wees soos om ‘n verpligting na te kom, veral wanneer dit ‘n opoffering of persoonlike ongerief vereis.
Sal jy vir God vra vir die krag en die wysheid om vandag te doen wat Hy wil hê jy moet doen? Bid deur elke item op jou taaklys vandag en vra vir God om jou die krag te gee om te doen wat Hy wil hê jy moet doen.
Aangaande hierdie leesplan
Oorgawe aan Jesus is ‘n lewensbepalende oomblik. Maar wat beteken hierdie besluit en hoe leef ons dit elke dag uit? Is dit slegs vir die groot besluite van die lewe, of vir uiters geestelike mense? Vrees, vorige mislukking en misverstande kan ons terughou. "Gaan-Doen-Sê-Gee" is ‘n belofte/gebed wat verduidelik hoe om die volgende stappe in jou geestelike reis te neem. Ondervind die vryheid wat kom as jy Jesus volg.
More