Vind Rus In 'n Besige WêreldVoorbeeld
Die vers in Lukas wat ons pas gelees het, sê dat Maria geluister het. In vandag se harwar kan dit een van ons grootste uitdagings wees — om waarlik te luister. Daar is altyd nog 'n alarm of gegons wat ons aandag aftrek van dit wat saakmaak. Die "moets" is genadeloos in hulle eise. Dit is 'n gedurige gedrup, drup, drup op ons siele. Totdat ons kurkdroog en dor aan die binnekant is.
Toe Maria haar blik na Jesus draai, het alle ander dinge vervaag. Ek weet nie van jou nie, maar ek kom menigmaal na Hom met een oog op die horlosie of selfoon. En dan wonder ek hoekom ek nie daardie dag van Hom gehoor het nie.
Om te luister beteken om baie nader aan Hom te kom. Om te luister behels 'n opsetlike uitskakeling van afleidings, sodat Hy van ons gedagtes en harte besit kan neem. Om te luister beteken om stil genoeg te wees om God te hoor fluister.
Ons moet besluit of ons die harwar verkies of om alle ander dinge uit te sluit, sodat ons Hom kan hoor praat. Hy verlang daarna dat ons nader aan Hom kom, sodat ons Hom kan hoor wanneer Hy fluister.
Kom nader
Here, daar is so baie dinge in my dag wat vir my aandag wedywer. Soms is dit oorweldigend. Soms kom die geraas egter van binne-in my — dis deurmekaar gedagtes wat u stem verdring. Help my om u fluisteringe te hoor. Ek het U nodig, ja, ek het U nodig. Amen
Aangaande hierdie leesplan
Ons kan nie verby die feit kom dat ons in 'n gedurig-roterende wêreld woon nie. Ons verlang na stilte in ons siele — maar daardie diepe rus blyk altyd buite ons bereik te wees. Of is dit? Kom ons bestee 'n paar minute gedurende die volgende paar dae, om in te loer by die huis van Maria en Marta in Betanië. Twee susters wat God liefgehad het, maar wat daardie liefde op twee heeltemal verskillende maniere bewys het. Uit die klein insident in Lukas, waar Jesus die twee susters besoek het, asook in ander Skrifgedeeltes, leer ons hoe om waarlik in Hom alleen rus te vind.
More