Vind Rus In 'n Besige WêreldVoorbeeld
In vandag se oordenking, loer jy by die kombuis in en sien hoe Marta al hoe meer geïrriteerd raak omdat sy eiehandig moet gasvrou speel. Jy kan byna die geratel van die potte en panne hoor soos haar frustrasie opbou. Uiteindelik nooi sy vir Jesus na haar kry-my-jammer-partytjie en vra: "Here, gee U nie om … nie?" (Lukas 10:40 AFR53).
Het jy, soos Marta, al gedink: "Ek doen al die werk hier rond en niemand gee eens om nie".
As 'n ma, weet ek, ek het al. In der waarheid lyk dit na die mantra van ma-wees. Niemand gee om dat jy aandete gemaak het, die tafel gedek en die skottelgoed weer weggevat het nie. Niemand gaan vir jou 'n sertifikaat gee omdat jy die klere van die vloer langs die wasgoedmandjie, en nie in die wasgoedmandjie, opgetel het nie. Jy kry nie 'n toekenning omdat jy neusies, agterstewes, tafels en toiletsitplekke afvee nie.
Dalk is jou verhaal anders en voel jy "onsigbaar" in 'n ander konteks. Miskien is dit by die werk of in 'n verhouding.
God sien egter. Hy sien wat jy stilweg doen. Wanneer niemand kyk nie. Wanneer niemand jou erkenning gee nie.
Die Bybel sê duidelik dat ons die appel van sy oog is. Dat ons sy kinders is, die skape van sy weiding. Hy tel elke haar op ons kop.
Marta het nie nodig gehad om God se aandag te verdien nie. Sy het dit alreeds gehad, eenvoudig deur God se genade.
Jy het dit ook. Hy sien, Hy weet en Hy gee om. Rus vandag in daardie genade.
Kom nader
Vader God, u Woord verseker ons dat U ons raaksien. U neem van ver af kennis van ons gedagtes. Hoe intiem ken U ons nie — en tog, verbasend genoeg, het U ons lief, nes ons is. Al erken die wêreld nie ons moeite nie, kan ons rus in die wete dat al ons werk aanbidding tot U is. Amen
Aangaande hierdie leesplan
Ons kan nie verby die feit kom dat ons in 'n gedurig-roterende wêreld woon nie. Ons verlang na stilte in ons siele — maar daardie diepe rus blyk altyd buite ons bereik te wees. Of is dit? Kom ons bestee 'n paar minute gedurende die volgende paar dae, om in te loer by die huis van Maria en Marta in Betanië. Twee susters wat God liefgehad het, maar wat daardie liefde op twee heeltemal verskillende maniere bewys het. Uit die klein insident in Lukas, waar Jesus die twee susters besoek het, asook in ander Skrifgedeeltes, leer ons hoe om waarlik in Hom alleen rus te vind.
More