YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 81 OF 364

Wat beveel God in die sewende gebod? – Matteus 5:27-32

Jesus begin hierdie gedeelte met ‘n verwysing na die sewende gebod in vers 27, maar hanteer, in vers 28-30, seksuele begeertes eintlik as ‘n voorbeeld van oortredings van die tiende gebod, vóór Hy in vers 31 vv meer spesifiek by die sewende gebod uitkom. Die tweede teenstelling is dus met die sewende gebod (Eksodus 20:14; Deuteronomium 5:18) oor egbreuk (moicheia – d w s seks met ‘n vrou wat met iemand anders getroud is), maar hierna as ‘n voorbeeld uitgespel in terme van die tiende gebod oor begeertes.

Jesus brei hierdie gebod oor seks met ‘n ander man se vrou uit na enige gedagtes oor enige vrou (gunaika), selfs ongetroudes. As jy kyk na ‘n vrou en haar begeer (epithumeō – “wellustig kyk” – vgl 2 Petrus 2:14), het jy reeds in jou hart met haar egbreuk gepleeg. Die wellustige gedagte is dus alreeds ‘n oortreding van die wet. Jesus gebruik twee radikale metafore om die dissipels aan te spoor om hierdie tipe “egbreuk van die hart” ten alle koste te vermy. As jou regteroog, wat jou juis van struikeling moes bewaar, jou egter laat sondig, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af. Dieselfde geld jou regterhand, die meer bruikbare en vaardige hand. Wat presies daarmee bedoel word, is onseker, maar ‘n mens kan vandag aan sekere toepassings dink wat seksueel van aard is, veral waar pornografie bv ter sprake is. Kap dit af en gooi dit weg “van jou af”. Dit is beter dat ‘n deel van jou vermink word as dat jou hele liggaam, d.w.s. jyself, verteer word in die helse vuur.

Die uitruk van die regteroog en die afkap van die regterhand is waarskynlik hiperbolies bedoel, nie noodwendig letterlik nie. Maar, die krasheid van die metafore dra in elk geval die erns van Jesus se bedoeling onomwonde oor. Wellus is alreeds die probleem, nie eers die daad nie. Kinders van die koninkryk leef selfs in hulle gedagtes rein, nie net in hulle gedrag nie!

Die derde teenstelling is weereens met die sewende gebod oor egbreuk, hierdie keer toegepas op egskeiding. Jesus haal uit die laaste preek van Moses net voor die intog in Kanaän aan, en verwys na die toelating van Moses dat as ‘n mens tot skei kom, jy dit wettig moet doen deur ‘n skeibrief (Deuteronomium 24:1). Dit was basies bedoel as wetlike beskerming van die vrou in die huwelik. Jesus sal later meer uitbrei hieroor, veral oor die feit dat die skeibrief in elk geval net toelaatbaar was weens die Israeliete se harde harte, nie omdat God dit só van die begin af wou hê nie (Matteus 19:1-12). Daarom beperk Jesus hier die gee van ‘n skeibrief tot net een tipe geval, en dit is waar daar ontrou was. Die ontrouheid was per se alreeds egbreuk, daarom kan Jesus verstaan dat dit in só ‘n geval toegelaat kon word.

Hy waarsku egter teen enige ander egskeiding, want dit bevorder egbreuk, presies wat die sewende gebod wil vermy. Die geskeide vrou word deur egskeiding blootgestel aan moontlike verdere egbreuk, en wie ook al met ‘n geskeide vrou trou, pleeg op die koop toe ook egbreuk. Jesus verwys hiermee na die afwysing van hertrou in die wet ter wille van die heiligheid van die geloofsgemeenskap (Deuteronomium 24:1-4).

Vir ‘n bietjie meer agtergrond

Moses het egskeiding toegelaat in die geval dat ‘n man nie meer sy vrou liefhet: “omdat hy iets onbetaamliks aan haar gevind het”. Die “onbetaamliks” (BDV het “onbehoorlik”) word nie uitgespel nie, maar die Hebreeuse woord ʿěrwāh word normaalweg met “naaktheid” vertaal, soos ons dit bv by Gam en sy pa Noag aantref (Genesis 9:22; vgl Deuteronomium 23:14). Die onbetaamlike of onbehoorlike gedrag dui dus waarskynlik op een of ander growwe seksuele oortreding.

Moses brei dan verder uit hierop en skryf voor dat die man nooit weer met dié vrou mag trou as sy intussen ‘n ander een se vrou geword het nie.Dit sal sonde in die oë van die Here wees en die land verontreinig. Hertrou was dus nie meer ‘n opsie as daar reeds ‘n ander troue plaasgevind het nie.

Dit is hieruit duidelik dat egskeiding ‘n toegewing was, nie ‘n gebod nie. En dit is waarna Jesus hier in die bergrede verwys.

Egskeiding was ‘n afskuwelike en gewelddadige gebeurtenis in die oë van die Here, verstaanbaar in enkele gevalle, maar steeds iets wat vermy kon word indien daar inkeer en versoening sou wees. ‘n Tweede huwelik het dié versoening en hertrou onmoontlik gemaak, vandaar die sterk woorde daaroor.

Jesus beveel ons hiermee dat ons rein en getrou moet bly vir en in die huwelik. Hy beveel ons om alle seksuele losbandigheid buite die huwelik tussen een man en een vrou te kruisig, terwyl ons as ongetroude en getroude alle onrein gedagtes, woorde, begeertes en dade moet vermy.

Dit beteken dat ons tevrede moet wees met wat ons het. Dat ons sonder afguns teenoor ander moet leef, en sonder om God te verkwalik vir sy voorsiening.

1. Jesus brei hier uit oor die diep eise van die sewende gebod. Wat tref jou van sy lering?

2. Wy jouself toe aan die Here en vra Hom om gehoorsaamheid hieraan vir jou te gee. Sluit ‘n verbond met jou oë om nie na ‘n ander as jou eie vrou te kyk nie. Só bly ons getrou aan mekaar, en werk die Gees sy heiligmaking in ons lewe.

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die absolute eis tot heiligheid in jou verhoudinge met mense van die ander geslag, ook jou huweliksmaat.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Matteus 5 met die tema: Jesus fokus op die stryd vir geregtigheid.

Day 80Day 82

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More