YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 80 OF 364

Wat beveel God in die sesde gebod? – Matteus 5:38-48

Die vyfde teenstelling wat Jesus in Matteus 5:21-48 hanteer, is onder andere met die agste gebod oor steel, maar met ‘n fokus op hoe ‘n mens veral ‘n oortreding daarvan teenoor jouself hanteer, die sogenaamde lex talionis, die wet van vergelding. Jesus praat dus oor wat ‘n mens doen as jy uitgebuit word, met of sonder geweld, of as daar van jou iets geneem of afgedwing word. Dit sluit ook mense in wat van jou wil leen.

Jesus sluit weer by die wet van Moses aan — die bekende wet: “oog vir oog, tand vir tand”. Jesus wil egter hê dat sy mense nie tevrede sal wees met die handhaaf van ‘n billike ewewig of die gee van ‘n billike kompensasie nie. Hy wil hê dat vergelding as sodanig vermy moet word. Dat sy mense deur vrygewigheid gekenmerk sal word.

Jesus spel dan vier situasies uit waarin sy mense aan die kortste end kan trek:

·Moenie julle teen ‘n slegte mens verset nie. D w s, aanvaar teenstand sonder om terug te baklei en self slegte goed te doen — ter wille van die verhouding. Dit gaan dus nie soseer om regsaksies al dan nie, maar oor ‘n keuse om nie persoonlike teenstand te laat eskaleer dat jy uiteindelik verlei word om self slegte goed te doen nie. Die slegte (bose) mens waarvan Jesus hier praat, hou verband met die vorige vers oor die Bose (vers 37), maar dui hier op ‘n persoonlike teenstand. Dit is mense wat die wil van die Bose uitvoer, soos ons dit ook in die gelykenis van die onkruid tussen die koring aantref waar die onkruid geïdentifiseer word as bose mense wat wetteloos is en ander in sonde laat val (Matteus 13:49). Waar ‘n mens kies om nie self slegte goed te doen aan ander nie, word ‘n ruimte vir God geskep om op te tree. Dit sluit egter nie uit dat ‘n mens ter wille van ‘n saak kan en moet optree nie, soos die profete geleer het (vgl bv Amos 1), Jesus in die tempel geïllustreer het (Johannes 2), en Paulus talle kere gedoen het (Handelinge 16:37; 22:25; 25:8-12).

·Draai jou ander wang as jy op die regterwang geslaan word. D w s, aanvaar persoonlike belediging en vervolging sonder om terug te beledig en te vervolg – ter wille van die verhouding. Om iemand op die regterwang te slaan, was gedoen met ‘n minagtende klap van die rugkant van die regterhand. Dit gaan dus hier oor belediging eerder as geweld. Ook oor ‘n persoonlike aanval nie soseer ‘n regsproses nie. Sommige geleerdes verklaar wel die klap op die regterwang as ‘n gebaar van vervolging. Hoe dit ook al sy, só ‘n minagtende klap was strafbaar in die Joodse en Romeinse reg met 'n baie swaar boete. Jesus vra dus van sy mense om nie op hulle regte te staan en hof toe te gaan oor só ‘n minagting nie. Dit is immers wat Hyself geïllustreer het later, toe die soldate hom tydens sy verhoor minagtend geklap het, benewens die fisieke leed wat hulle hom ook nog aangedoen het (Matteus 26:67). Dié optrede van Jesus herinner ons ook aan die feit dat Hy daar opgetree het in vervulling van wat die lyding wat vir Hom as die dienskneg van die Here voorspel is (Jesaja 50:6).

·Gee in dreigende hofsake selfs meer as wat gevra word. Dit is ‘n keuse vir selfs groter skade, veral waar dit in ‘n regsgeding kan ontaard — steeds ter wille van die verhouding — moontlik ook om die hofprosesse te vermy. Die wet het bepaal dat as jy jou klere verpand, moet dit vir jou voor sononder teruggegee word, al is jou skuld nog nie vereffen nie — ter wille van barmhartigheid (Eksodus 22:25-27). Wat Jesus dus hier bedoel, is dat jy dié reg moet prysgee as iemand jou op onredelike wyse hof toe sleep, by wyse van spreke, vir jou onderklere. Gee dan ook jou boklere, sodat jy van jou vyande vriende kan maak. Wees bereid om skade te ly ter wille van versoening sodat die saak nie in die hof draai nie. Soos Paulus dit later op soortgelyke wyse op die geloofsgemeenskap toepas: ly liewer skade as wat jy ‘n broer hof toe vat (1 Korintiërs 6:7-8).

·Gee meer as wat van jou afgedwing word. Wees vrygewig teenoor dié wat mag oor jou het. Romeinse soldate het die reg gehad om iemand op te kommandeer om hulle goed vir 1,5 km te dra. Dit is presies wat die soldate later vanweë hierdie reg, met Simon van Sirene doen (Matteus 27:32). Jesus sê, in plaas daarvan om te mor oor dié wet, dra die goed liewer dubbeld die afstand as ‘n blyke van jou goeie gesindheid. Jou vrygewigheid moet die vereistes oortref!

Jesus rond hierdie lering af met ‘n algemene beginsel dat sy mense deur ‘n radikale vrygewigheid gekenmerk moet word, om te gee aan die een wat van jou vra, en om die een wat van jou wil leen, nie weg te wys nie. Dit is wat die wet ook geleer het (Deuteronomium 15:7-8), maar hier word dit net meer radikaal toegepas. Jesus sal later verder hierop uitbrei deur te sê dat ‘n mens ook moet leen aan dié van wie jy niks terug kan verwag nie (Lukas 6:34-35).

Die sesde teenstelling is gebaseer op die gebod tot naasteliefde (Levitikus 19:18) wat hier op ‘n radikale wyse ook van toepassing gemaak word op vyande. Jesus haal aan uit Levitikus 19:18, die bekende stelling dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself. Hy voeg daaraan by iets wat nie uit Levitikus kom nie: “Jy moet jou vyand haat.” Dit is trouens iets wat nêrens in die OT geskrywe staan nie. Levitikus 19 en Deuteronomium 10 sluit immers die vreemdeling in by hierdie opdrag om lief te hê (Levitikus 19:34; Deuteronomium 10:19).

Die beste verklaring vir hierdie byvoeging van Jesus is dat Hy Hom hier verset teen die leringe van die Esseners. Hulle was ‘n sterk moralistiese en sektariese groep wat ten spyte van hulle intense Skrifstudie by die Dooie See hulle eie, baie eng leringe gevorm het. Hulle is die enigste Joodse groep wat ooit verkondig het dat jy jou vyande moet haat. Jesus sluit dus aan by Levitikus 19 se gebod tot die liefde vir die naaste en verset Hom teen die verkeerde lering van die Esseners dat jy jou vyand moet haat. Jesus radikaliseer só die opdrag tot die liefde vir die naaste, sowel as die liefde vir die vreemdeling, dat Hy ons gebied om ons vyande lief te hê.

Die liefde vir die vyand kon alreeds in die wet gesien word waar beveel is dat ‘n mens genade aan jou vyand moes betoon. As jy ’n verdwaalde bees of donkie van jou vyand raakgeloop het, moes jy dit beslis na hom toe teruggebring het (Eksodus 23:4). Jou konflik met iemand moes jou nie verlei om hom of haar kwaad aan te doen, selfs al was dit net deur te maak asof jy sy skade nie raakgesien het nie.

Die hantering van vyande in die Bybel is kompleks, want in die OT word wel gepraat daarvan dat die vyande van die Here ook as die vyande van die geloofsgemeenskap beskou moet word (Psalm 139:21-22; vgl Deuteronomium 23:3-6). Omdat God se eer bó alles staan, moet sy eer ten alle koste beskerm word. Daarom kan die Psalmis verklaar dat God se vyande ook sy vyande sal wees. Hy wil met goddelose mense niks te doen hê nie. Die Psalmis identifiseer dus volledig met God self en wil dus niks te doen hê met enigiemand wat hom van dié lojaliteit kan wegskeur nie. Trouens, Hy vra dat God se ondersoekende teenwoordigheid hom nog beter op die beproefde pad sal lei.

In die NT kan só ‘n houding egter nie werk nie, want dit is juis dié vyande van God wat ook die boodskap van sy genade moet hoor. Dit geld ook vir onsself, want Jesus het ons met God versoen toe ons self nog vyande was (Romeine 5:10). Die genadetyd wat met Jesus aangebreek het, hef dus die normale verloop van sake op, sodat die uitverkorenes tot inkeer kan kom, totdat die Here natuurlik aan die einde van die tyd al sy vyande — en daarmee ook die geloofsgemeenskap se vyande — self sal uitwis (Hebreërs 1:13; 10:13).

Hoekom? Want dít is wat kinders van die Vader in die hemel doen! Hulle tree op soos God self deur die son oor slegtes en goeies te laat opgaan, en te laat reën op regverdiges en onregverdiges. Hulle weerspieël God se vrygewige genade aan almal. Ons liefde moet meer wees as die van die tollenaars — die korrupte belastinggaarders van hulle tyd – wat ook hulle eie mense liefhet. Ons gasvryheid moet meer wees as die heidene wat ook gasvry was teenoor hulle eie mense. Ons moet vir almal lief wees en almal gasvry ontvang, nie net dié wat vir ons liefhet en dié wat gasvry is teenoor ons nie.

Jesus som sy uitleg van die wet op met die oorhoofse beginsel vir elke kind van God: “Wees julle dan volmaak (teleios) soos julle Vader in die hemele volmaak is.” As kinders van die Vader moet ons die karakter van die Vader ten toon stel, sodat mense Hom kan verheerlik in ons liefde en gasvryheid.

1. Wat tref jou van Jesus se verdere lering oor die sesde gebod, veral waar dit hier oor vergelding en vyande gaan?

2. Dink na oor die impak wat dit op ons getuienis in die wêreld sal hê as ons die siklus van vergelding verbreek en ons vyande lief sou hê soos wat God vir ons lief het.

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die eis om volmaak te wees soos ons hemelse Vader.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Matteus 5 met die tema: Jesus fokus op die stryd vir geregtigheid.

Day 79Day 81

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More