Wie Is God?Sample
Vraag 9: Wat verwag God van jou in sy wet?
1. Wat verwag God van jou in sy wet soos Hy dit in die Tien Gebooie vasgestel het? Hoe sal jy dit opsom? Is die wet steeds geldig? Hoe hou die wet verband met die genade van die evangelie?
2. Lees my antwoord en oordink dit.
Dat ek God sal liefhê bó alles en my naaste soos myself. Wat God verbied, mag ek nooit doen nie. Wat God gebied, moet ek altyd doen. God verwag persoonlike, volkome, noukeurige en volhardende gehoorsaamheid aan die wet. Die wet is in ooreenstemming met die genade van die evangelie. Die Gees van Christus stel my in staat om te voldoen aan die vereistes van die wet.
3. Die voorskrifte van die wet verskaf ‘n netwerk van vertikale en horisontale riglyne wat oorvloed in die lewe moontlik maak. Hoe help hierdie verklaring jou om die blywende waarde van die Tien Gebooie en die res van die OT raak te sien?
4. Lees Jesus se opsomming van die wet in Matteus 22:34-40. Wat tref jou?
5. Lees my opsomming van die boodskap daarvan en oordink dit.
’n Wetsgeleerde het Jesus gevra: “Leermeester, wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?” Jesus se antwoord was: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en belangrikste opdrag.” Dit vat die eerste vier van die Tien Gebooie saam. Jesus sê toe: “Die tweede, ewe belangrike opdrag is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Dit vat die laaste ses gebooie saam. Jesus som dit só op: “Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee gebooie.”
6. Wat beteken dit dat alles in die wet en die profete op hierdie twee gebooie “berus”? Een manier om dit beter te verstaan, is om enige gedeelte van die OT te vat en na te dink hoe dit verband hou met die liefde tot God en die liefde tot die naaste. Byvoorbeeld: jy mag geen ander gode náás God aanbid nie – dit “berus” op die liefde vir God. Óf: jy mag geen valse verklarings aflê nie – dit “berus” op die liefde vir jou naaste. Dink self aan ‘n klomp voorbeelde en maak die verbintenis met die dubbele liefdesgebod (bv offers, reinheid, heiligheid, selfs gehoorsaamheid aan moeilike opdragte soos ‘n “heilige oorlog” of die aanvaarding van “ballingskap”).
Scripture
About this Plan
Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.
More