Wie Is God?Sample
Wat verwag God van jou in sy wet? – 1 Timoteus 1:8-11
Let op hoe doelgerig Paulus hierdie brief skrywe. In hierdie eerste hoofstuk groet Paulus hom (1:1-3), beweeg onmiddellik na ‘n bespreking van die uitdaging van die mense in Efese wat valse leerstellings versprei (1:4-7), en gee vir Timoteus twee teologiese argumente as skietgoed (regte gebruik van die wet; regte begrip van die evangelie — 1:8-17) en eindig met ‘n oproep aan hom om die goeie stryd van die geloof te stry (1:18-20), dws ‘n lewe in geloof wat pas by die gesonde leer.
Die sleutel tot ‘n begrip van hierdie valse leraars se beheptheid met mitiese verdigsels, eindelose geslagsregisters en ‘n fokus op die wet, lê waarskynlik in die feit dat hierdie kennis ‘n skyn van diepte en misterie gehad het, iets wat net vir die ingewydes bedoel is, en net deur hulle verstaan kan word.
Die evangelie van Jesus Christus is daarenteen ‘n baie publieke geloof, iets wat aan ‘n kind verduidelik kan word, en wat om ‘n rein hart en goeie gewete, en opregte geloof en liefde gaan. Kennis is goed, maar net nuttig, as dit die doel dien dat ‘n mens in jou geloof in God gevorm word.
Daarom moet die dwaalleraars teëgegaan word, nie om hulle net te verneder of aan die kaak te stel nie, maar met die doel om hulle in liefde reg te help. Dit is soos die tug altyd moet werk, om mense in liefde te help om weer van binne af te herstel om die gesonde leer aan te hang.
Paulus fokus dan op die regte verstaan en gebruik van die wet, en lê dit uit as iets wat eintlik vir die ongehoorsames bedoel is — en hy gee sommer ‘n lysie van die mense vir wie dit bedoel is. Daarteenoor is die fokus van die evangelie om insig in die heerlikheid van die “goeie God” te verkry en Hom te dien.
Dit is met hierdie woorde in gedagte — 1) die regte begrip en gebruik van die wet; 2) die regte begrip en verstaan van die evangelie; 3) Paulus as voorbeeld van hoe God se genade werk — dat Timoteus die goeie stryd moet stry, aan die geloof moet vashou en ‘n goeie gewete moet behou.
1. Dink na oor die gerigtheid van die wet asook oor die ooreenstemming met die goeie nuus van die evangelie. Wat leer jy uit hierdie gedeelte daaroor?
2. Dink na oor die sondes wat hier genoem word as dinge wat deur die wet sowel as die evangelie verbied word. Verbind jou daaraan om die Here in alles te gehoorsaam, ook om dié dinge te vermy.
3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die heilige lewe wat God van ons vra.
4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van 1 Timoteus 1 met die tema: 'n Lewe in geloof wat pas by die gesonde leer.
Scripture
About this Plan
Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.
More