YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 56 OF 364

Hoekom is die Tien Gebooie, die wet, so belangrik?

‘n Mens kan die vraag op baie maniere beantwoord. Maar, Psalm 119 is miskien die beste plek om by te begin. Psalm 119 is ‘n loflied op God se openbaring waarin uitvoerig op die betekenis van die wet ingegaan word. Daar is talle en talle verwysings daarna.

Hoekom is dit wet so belangrik?

1. Die wet is een van die kragtigste werkinge van God in die lewe

Só sê Psalm 119 in sy 176 verse.

“Maak my oë oop dat ek die kragtige werking van u wet ervaar” (Psalm 119:18).

Dit is waarom die Psalmis so baie bestee aan die wet. Want hy weet dat God se krag tot sy volle werking kom in sy lewe deur die wet.

“Selfs in die nag dink ek aan U, Here, en is ek gehoorsaam aan u wet” (Psalm 119:55).

Dit is God se wet wat hom die volharding in gehoorsaamheid gee ten spyte van mense wat spot:

“Ek moes die felle spot van hovaardige mense verduur, maar van u wet het ek nie afgewyk nie” (Psalm 119:51).

Die wet gee hom die krag ten spyte van ander se verontagsaming van die wet:

“Ontsteltenis het my oorval oor die goddeloses wat u wet verontagsaam” (Psalm 119:53).

Trouens, die wet gee hom krag selfs as die goddeloses hom wil verstrik of vir hom ‘n gat wil grawe:

“Die goddeloses wou my in hulle strikke kry, maar ek het u wet nie verontagsaam nie” (Psalm 119:61). “Die hovaardiges, wat nie volgens u wet lewe nie, het vir my meer as een keer ’n gat gegrawe om in te val” (Psalm 119:85). “Hulle staan koud teenoor u wet, maar ék verlustig my daarin” (Psalm 119:70). “U wet is vir my kosbaarder as ’n oorvloed van goud en silwer” (Psalm 119:72). “As ek my nie in u wet verlustig het nie, het ek omgekom in my ellende” (Psalm 119:92).
“Hoe lief het ek u wet! Dit bly my elke oomblik by” (Psalm 119:27).

Daarom vra die Psalmis dat God sal ingryp teen diegene wat sy wet oortree:

“Dit is tyd dat die Here ingryp teen dié wat sy wet oortree” (Psalm 119:126).

En hy doen dit met trane:

“My trane vloei sonder ophou omdat die mense u wet nie onderhou nie” (Psalm 119:136).

Terwyl hy die Here loof vir die sekerheid wat die wet bring:

“Vir dié wat u wet liefhet, is daar groot sekerheid; niks kan hulle laat struikel nie” (Psalm 119:165).

En hy vra vir uitkoms, juis omdat hy in God se wet sy vreugde vind:

“Ek smag na u hulp, Here, in u wet vind ek my vreugde” (Psalm 119:174).

Geen wonder die wysheidsleraar, die Prediker, som sy hele betoog oor die lewe op met hierdie waarheid:

“Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word. God sal rekenskap eis oor alles wat gedoen word, ook oor wat in die geheim gedoen word, of dit goed is of kwaad” (Prediker 12:13-14).

2. Die wet is God se geskenk aan ons

Die belangrikste geskenk van God aan die volk Israel was nie hulle verlossing uit Egipte nie. Dit was nie die land Kanaän wat Hy aan hulle gegee het nie. Dit was die wet van God wat God met sy eie hand geskrywe het. Tien woorde van God wat die riglyn nie net vir hulle lewe sou word nie, maar vir alle gelowiges regdeur al die eeue.

Geen wonder dat Olevianus en Ursinus die wet só ‘n belangrike rol gegee het in die Heidelbergse Kategismus nie. Hoekom? Want die wet bly God se geskenk aan ons. Dit is die hart van die Skrif, van die Woord van God aan ons.

In die NT is die wet uiteraard vir gelowiges meer net as ‘n uiterlike stel reëls. Dit is veral die innerlike riglyn wat deur die Gees op ons harte geskryf word. Maar, vir goddeloses bly die wet onveranderd van krag, soos Paulus verskeie kere skryf (Romeine 1-3; 1 Timoteus 1).

Die wet bly egter ook vir gelowiges van krag, want dit is die basis van die hele Woord van God, soos Jesus dit ook in Matteus opgesom het as die somtotaal van wat Hy van ons vra

Hoekom? Want:

  1. Die wet wys vir ons hoe die lewe lyk. Die wet wys vir ons hoe die lewe lyk saam met God, en die lewe saam met ons naaste. Dit is soos ‘n padkaart na die lewe. Jy moet ... jou ouers respekteer. Jy moet ... die rusdag vier. Daar is geen beter beskrywing van hoe ons God moet liefhê en ons naaste soos onsself nie. ‘n Lewe van dankbaarheid, soos die Heidelbergse Kategismus dit vir ons beskryf.
  2. Die wet wys vir ons wat sonde is. Sonder die wet kan ons sonde nie herken of erken nie. Jy mag nie ... nog ander gode naas God aanbid nie. Sonde is om God se wet te oortree en in sy wêreld te lewe asof Hy nie bestaan nie. as dit nie in die wet staan nie, hoe sal jy weet dat God nie ander gode duld nie? Jy moenie ... mense doodmaak nie, óf egbreuk pleeg nie, óf steel nie.

Geen wonder dat die wêreld vandag die wet lig skat nie. Want waar die wet geïgnoreer word, is daar geen bewussyn van sonde nie. Kan mense hulle eie wette opstel en God se wet in die vergetelheid laat verdwyn. Kan jy die doodmaak van mense met ander terme beskryf, soos ‘n klomp dokters nou sê in Australië dat ‘n ma ‘n na-geboorte aborsie moet kan aanvra ... egbreuk verdedig op ander gronde as wat die Bybel voorskryf ... iets sonder verlof van ander vat, rasionaliseer, almal doen dit.

Dink vir ‘n oomblik na oor wat sal gebeur as God se wet verwyder word en ons nie meer daaraan gehou sou word nie. Want, onthou, dit is ook die basis vir die Romeins-Hollandse reg waarop ons land se wette gebaseer is.

Die eerste ding wat sal gebeur, is dat jou bewussyn van sonde sal verdwyn. Jy sal nie meer weet wat reg en verkeerd is nie. En niemand om jou sal weet nie. En anargie sal begin heers. Trouens, dit is die rede vir anargie waar dit ook al voorkom. Mense het hulle bewussyn verloor van wat reg en verkeerd is.

Die tweede ding wat sal gebeur, is dat jou bewussyn van wat die lewe moontlik maak, sal verdwyn. Jy sal nie meer kan onderskei wat is goed en wat is sleg nie. Jy sal oorgelaat wees aan jou eie planne, nie meer aan jou afhanklikheid van God en sy spesifieke wil vir die lewe nie.

En dit help nie jou probeer sê, ja maar die liefde sal bly nie. Want, hoe sal jy weet wat die inhoud van die liefde is? Hoe sal jy weet wat juis nie liefde is nie? Jy het ‘n maatstaf nodig om vir jou te vertel wat die liefde is, en wat nie, sodat jy kan onderskei en jy God se wil vir hierdie lewe kan doen. En ons definisies van wat liefde is, sal só verskil, dat ons mekaar se vyande sal word.

Die eerste tafel se vier gebooie leer ons dus hoe ons ons teenoor God moet gedra en wat ons moet vermy. Die tweede tafel se ses gebooie leer ons wat ons aan ons naaste verskuldig is en wat ons moet vermy (Heidelbergse Kategismus 93).

3. Die wet leer ons dus wat sonde is. Die wet leer ons wat liefde is.

Selfs in die NT!!!

So leer Jesus ons

Daar is die wanpersepsie by gelowiges dat Jesus die wet tot niet kom maak het. Dat Hy die werk van God in die OT kom vervang het met ‘n nuwe gebod wat niks met die ou gebod te make het nie.

Wat sê Jesus self oor die wet?

“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is” (Matteus 5:17-18).

Wat sê Jesus vir mense wat die wet verwerp?

“Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel” (Matteus 5:19a).

Wat sê Jesus vir dié wat die wet gehoorsaam?

“Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel. Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie” (Matteus 5:19b-20).

Trouens, Jesus verbind die wet aan die wil van God en sê dat waar jy die wet oortree, daar leef jy nie meer in God se wil nie:

“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê: 'Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree'"(Matteus 7:21-23).

Jesus betreur dit daar mense sal kom — en hy verwys na ons tyd — wat mense sal leer om die wet van God te minag:

“Daar sal baie vals profete kom, en hulle sal baie mense mislei. Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde by baie verkoel. Maar wie tot die einde volhard, sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom” (Matteus 24:11-14).

So leer Paulus ons

As Paulus in sy Romeinebrief oor die impak van God se openbaring in die wêreld praat dan sê hy dat daar niemand is wat nie van die wet weet nie, Jode en heidene:

“Wanneer heidene, wat nie die wet het nie, tog vanself dinge doen wat die wet vereis, is hulle vir hulleself ’n wet al het hulle nie die wet nie. Die optrede van sulke mense bewys dat die eise van die wet in hulle harte geskrywe staan” (Romeine 2:14-15).

Dit beteken nie dat die wet ons red nie, maar dat ons deur geloof in Christus die wet tot sy reg laat kom:

Nou weet ons dat ons nie deur die wet gered kan word nie. Ons word deur ons geloof in Jesus Christus gered. Maar sê Paulus: ”Hef ons dan deur die geloof die wet op? Beslis nie. Ons laat die wet juis tot sy reg kom” (Romeine 3:30b-31).

As Paulus dan aan ons verkondig dat ons in Christus nie meer “onder die wet” staan nie, dan bedoel hy nie dat ons glad nie meer aan die eise van die wet hoef te voldoen nie, maar dat God se wet nou binne in ons harte geskrywe staan, sodat ons van binne af kan doen wat die uiterlike wet nie kon regkry nie!

Ons word dus vrygemaak van die wet van die sonde en die dood, sodat die wet van die Gees wat in ons harte ingeskryf word, sy werk kan doen in ons, só sê hy in Romeine 8.

Maar beteken dit dat ons daarom vry is van die voorskrifte van die wet? Nee, sê Paulus, omdat die Gees in ons is, kan ons nou die wet nakom:

“Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees” (Romeine 8:4).

As Paulus Christus dus as die einde van die wet beskryf (Romeine 10:4), is dit nie om te sê dat die wet ophou bestaan nie, maar net dat die locus van die wet skuif vir gelowiges. Die wet neem sy intrek in ons hart sodat ons deur die Gees die wet kan nakom.

Daarom kan Paulus in sy verdediging voor Festus sê:

“Ek glo nog steeds alles wat in die wet en die profete geskrywe staan” (Handelinge 24:14).

En as Paulus die evangelie van Jesus aan die Jode in Rome verduidelik terwyl hy in huisarres is, sê Lukas:

“Van vroeg die môre tot laat die aand het Paulus die koninkryk van God vir hulle verduidelik en hulle uit die wet van Moses en uit die profete probeer oortuig van Jesus” (Handelinge 28:23).

So leer Jakobus ons

Jakobus, broer van Jesus, verklaar dieselfde onomwonde boodskap:

Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ’n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen (Jakobus 1:25).

So leer Johannes, die apostel van die liefde, ons

Hy sê presies dieselfde. Want die wet is die primêre manier waarop God ons nie net die riglyne vir die lewe aandui nie, maar ook oortuig wat sonde is:

Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God (1 Johannes 3:4).

4. God het die wet op jou hart geskryf

Daarom verkondig ek aan jou die boodskap van God. Hy het die wet op jou hart geskryf. Eenmaal was dit op kliptafels wat in die ark in die tabernakel en tempel gebêre is. Vandag is dit deur die Gees in jou hart geskryf.

Só het Jesaja dit voorspel (Jesaja 8:15). Só het Jeremia dit voorspel (Jeremia 31:31-34). Dit is waarvoor ons ‘n nuwe hart kry, soos Esegiël dit voorspel het (Esegiël 11:19).

Hoor dus die wet van God op ‘n nuwe manier, en laat die Gees jou die krag gee om dit met jou hele lewe te vervul. Memoriseer dit. Laat dit jou doen en late struktureer:

  1. Jy mag nie nog ander gode buiten God aanbid nie.
  2. Jy mag nie vir jouself afgode maak en hulle aanbid nie.
  3. Jy mag nie die Naam van God sonder respek gebruik nie.
  4. Jy moet die rusdag vir God vier.
  5. Behandel jou ouers met respek.
  6. Moenie mense doodmaak nie.
  7. Moenie egbreuk pleeg nie.
  8. Moenie iets steel nie.
  9. Moenie valse verklarings aflê nie.
  10. Moenie afgunstig raak nie.

Dit is die beginsels vir die lewe. Dit is die basis vir ons etiek. Dit is die basis vir leer en lewe. Toe, vandag, en vir altyd.

Ek sluit af met ‘n dringende oproep waaraan ‘n lewegewende belofte gekoppel is.

5. Bewaar die gebooie van God en die getuienis van Jesus Christus

Johannes skrywe hieroor in die Openbaring aan hom. Hy sê dat die stimulus en krag vir ons teenstand teen die duiwel en die wêreld lê in Jesus en die gebooie van God:

“Die draak was woedend oor die vrou en hy het weggegaan om oorlog te maak teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God nakom en aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het” (Openbaring 12:17).

Hy herhaal dit as ‘n voorskrif vir die hele kerk waarin die krag van ons volharding lê:

Hier het die gelowiges volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom en in Jesus bly glo” (Openbaring 14:12).

Want dit is dié mense wat uiteindelik sal eet van die boom van die lewe en in die heilige stad van God vir ewig sal lewe.

"Geseënd is dié wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan" (Openbaring 22:14).

Bonus vir dieperdelwers uit The Wycliffe Bible Encyclopedia

WET. Die woord wet word gebruik om Heb. tôrâ (wat "instruksie" beteken) en die Gr.nomos (wat "gevestigde gebruik" beteken) te vertaal. Fundamenteel dui beide tôrâ en nomos een of ander reël of regulasie aan wat deur 'n hoër mag op die mens of die natuur afgedwing word. Die wetgewer behou die reg voor om alle ongehoorsaamheid te straf.

Daardie onsigbare kragte wat in die natuur woon en produktief is van orde en ontwerp in die heelal, word gewoonlik die natuurwette genoem. Die Bybel praat selde abstrak van sulke wette. Die rede wat dikwels aangevoer word, is dat die Bybel nie 'n handboek oor wetenskap is nie. Alhoewel dit nie 'n handboek oor wetenskap is nie, het die Bybel baie te sê oor wetenskaplike wette as openbaring van die aard van God. Sulke werkwoorde soos “maak” (Job 36:27–33), “direct” (37:3), “bevel” (37:12; 38:12), “veroorsaak” (37:13, 15, 38:26) –27), “gids” (38:32), en selfstandige naamwoorde soos “weg” (38:24), “ordinansies” (38:33), “tyd” (39:1 v.), dui alles in nie-tegniese taal God se beheer oor die natuur deur die wette wat Hy daargestel het. Dit is onmoontlik om werklike konflik tussen hierdie natuurwette en die wette wat God in ander gebiede van sy universele regering ingestel het, te stel.

Op 'n ander vlak word God se wette gevind wat in die harte van mense geskryf is. Hier moet 'n tweeledige onderskeid getref word. Aan die een kant is God se wette in die harte van alle mense geskryf as gevolg van die beeld van God wat by die skepping in die mens geplant is (Genesis 1:26 v.). Hierdie wette, so onuitwisbaar soos die kleur van ’n mens se vel, maak dat selfs heidene “van nature die dinge doen wat in die wet [Mosaïese] vervat is” (Romeine 2:14). Die bewyse van sulke wette word in die gewete gemanifesteer (2:15) en deur die natuur bevestig (Romeine 1:26 v.; 1 Korintiêrs 11:14). Aan die ander kant is God se wette in die harte van gelowiges in die nuwe verbond geskryf (Jeremia 31:31–33; Esegiël 11:19 v.; 36:25–27; 2 Korintiërs 3:3, 7–8). Hierdie wette wat deur die "nuwe skepping" ingeplant is (2 Korintiërs 5:17) word bewys deur die Gees se vrug (Galasiërs 5:22) en bevestig deur "volmaakte liefde" (1 Johannes 4:17).

Op nog 'n ander vlak is die wette van die staat ingestel as agente van God in die menslike samelewing (Romeine 13:1–7; 1 Petrus 2:13–15). (Vir versamelings van wette en regsdokumente uit antieke Mesopotamië, Egipte en Klein-Asië, sien ANET, pp. 159–198, 212–222.) Daar is egter tye wanneer die staat, geïnspireer deur Sataniese vyandigheid teenoor God se waarheid, wette maak wat deur God se ware kinders verontagsaam moet word (Daniël 3:8–30; 6:1–28; Handelinge 5:26–29, 40–42). Onregverdige wette wat in die regering van die Antichris uitgevaardig is, sal vervolging en dood vir die volgelinge van die Lam bring (Openbaring 13:1–17; 20:4). Die gelowige se uiteindelike gehoorsaamheid moet altyd aan God eerder as die mens wees (Handelinge 5:29; Openbaring 1:9; 12:11).

Op 'n hoër vlak is nog daardie wette wat deur God ingestel is vir die mens se huidige stadium van bestaan. Hulle kan as geregtelik en seremonieel geklassifiseer word. Die geregtelike, hoofsaaklik gebaseer op die Tien Gebooie (v.v.), handel oor daardie verhoudings in die samelewing waar beperkings geplaas moet word op die bose neigings van die menslike natuur (Romeine 7:6; Galasiërs 3:19). Hierdie wette het steeds geldigheid in die evangelietydperk in soverre dit basiese lewensverhoudings verteenwoordig waar sonde en geregtigheid betrokke is. Die seremoniële wette was egter deur God bedoel om tipiese voorstellings te wees van evangeliewaarhede wat in die OT ingebed is. Noudat Christus die tipes deur sy kruisdood vervul het, het hulle geen verdere geldigheid nie (Matteus 27:51; Galasiërs 5:1–9; Hebreërs 9:1–28; 10:1–22).

Op die hoogste vlak van alle wette is God se morele wette soos saamgevat in die Tien Gebooie. Hierdie wette is van ewige geldigheid omdat hulle gebaseer is op die onveranderlike aard van God. Die gelowige sal uiteindelik oorgaan in 'n ryk van glorie waar ongehoorsaamheid aan God se wette nie net ondenkbaar sal wees nie, maar ook onmoontlik. Hierdie wette van God, verkondig in die Tien Gebooie en herinterpreteer in terme van absolute liefde tot God en tot ons naaste (Matteus 22:36–40; Romeine 13:8–11; Galasiërs 5:14,) vind hulle huidige vervulling en verwesenliking in die gelowige se lewe nou en dan finale voleinding in sy lewe en gemeenskap in die hemelse stad deur die eeue van 'n eindelose ewigheid.

Opsommend kan die volgende onderskeid getref word: (1) wette wat deur God gemaak is (Eksodus 20:1–17) en wette wat deur die mens gemaak is (Daniël 6:6–9); (2) wette van tydelike betekenis (Hebreërs 10:1–4) en wette van ewige duur (2 Samuel 7:12–16; Psalm 1–4); (3) wette wat op kliptafels geskryf is (Deuteronomium 5:22) en wette geskryf op die harte van mense (Hebreërs 8:10; vgl. 2 Korintiërs 3:3); (4) wette wat slegs vir die Jode bedoel is (Handelinge 15:1, 10) en wette wat vir die hele mensdom ontwerp is (Genesis 1:28; 9:5–7).[1]

ANET Ou Nabye Oosterse Tekste, J. B. Pritchard

q.v.quod video (wat sien)

[1]W. B., 1975. Law C. F. Pfeiffer, H. F. Vos, & J. Rea, eds. Die Wycliffe Bible Encyclopedia.

Day 55Day 57

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More