YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 58 OF 364

Wat verwag God van jou in sy wet? – Matteus 5:17-20

Jesus is baie duidelik daaroor dat Hy nie gekom het om die boodskap van die OT te verbreek nie, maar dit te vervul. Jesus gebruik hier die wet en die profete as aanduiding vir die hele OT (vgl Matteus 7:12; 11:13; 22:40; Handelinge 24:14; 28:23; Romeine 3:21 waar dieselfde frase gebruik word; Lukas 24:44 voeg ook die Psalms hierby).

Jesus het wel gekom om die mondelinge tradisie van die Fariseërs te verbreek, soos ons in die vroeëre gesprekke oor die Sabbat agtergekom het. Dit was omdat die Fariseërs juis die skriftelike tradisie van die wet en die profete met hulle eie mensgemaakte wette verbreek het. Dit moet mense egter nie laat dink dat Jesus die Skrif wil verbreek nie. Inteendeel, Hy wil juis die Skrif tot sy reg laat kom in die volste sin van die woord.

Om dit helder te sê, gebruik Jesus twee Griekse woorde om sy boodskap oor te dra. Die Griekse woord vir verbreek (kataluō) beteken nie net om die wette te oortree nie, maar om daarmee weg te doen, om dit te vernietig. Dit is duidelik nie wat Jesus kom doen het nie. Hy het nie die boodskap van die OT kom vernietig nie, maar kom vervul.

Die Griekse woord vir vervul (plēroō), beteken om die boodskap van die wet en die profete hulle volle betekenis te laat kry deur dit te gehoorsaam. ‘n Mens kan ook vertaal: om die wet hulle “ware bedoeling of betekenis te laat kry.”

Jesus bevestig hiermee ondubbelsinnig die OT boodskap met ‘n goddelike eed: “Waarlik”! Nie eers die kleinste of mees onbelangrike deel van die wet sal in hierdie lewe verbygaan nie, sê Jesus. Terwyl die hemel en aarde daar is, en die einde nog nie gekom het nie, sal God se wet bly staan. Dit belowe Jesus.

Jota en tittel verwys hier na die kleinste letter in Hebreeus, die jota (י), en die kleinste letterstrepie in Hebreeus, die tittel, wat bv die onderskeid tussen die letter resj (ר) en dalet (ד) moontlik maak. Kyk of jy die verskil kan sien! Die wet kan doodgewoon nie gebreek word nie, soos Jesus op ‘n ander plek sê (Johannes 10:35).

Wat die vervulling wel doen, is dat dit sekere dele van die wet, veral die seremoniële en burgerlike dele daarvan, onnodig maak. Só skrywe Paulus aan die Kolossense: “Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie , of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus” (Kolossense 2:16-17). Dit is waarom die Sabbat nie meer vandag gevier hoef te word nie, al is dit selfs deur die wet voorgeskryf.

Die wet bly egter staan vir almal wat wetteloos lewe, soos Paulus op ‘n ander plek skrywe (1 Timoteus 1:8-11). Dit beteken uiteraard nie dat ‘n mens deur die wet jou saligheid kan beërwe nie. Dit sou wetties wees. Dit beteken egter ook nie dat ‘n mens sonder die wet jou saligheid kan beërwe nie. Dit sou wetteloos wees.

Op talle plekke sal die Skrif inderdaad sê dat die wet op ons harte geskrywe word, sodat ons deur die Gees gelei kan word (Jeremia 31:33; Hebreërs 8:10; vgl Romeine 8:1-17). Dit is die korrekte manier om oor die wet se funksie in gelowiges se lewe te dink.

In ‘n sinspeling op sy eie volmaakte nakom van die wet, spel Jesus dit duidelik uit dat ‘n mens selfs nie die kleinste gebod kragteloos moet maak nie, maar alles in detail moet nakom. Omdat Jesus die wet volmaak nagekom het, en ander só onderrig het, kan Hy die grootste wees in die koninkryk van die hemele.

Jesus verklaar dat sy dissipels se geregtigheid oorvloediger as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs moet wees, anders sal hulle die koninkryk van die hemele nie kan ingaan nie. Hoe wonderlik om dan te besef dat ons nie op grond van ons eie geregtigheid in die hemel kan kom nie, maar juis deur die Een wat alles volmaak nagekom het, Jesus, ons volkome geregtigheid (Romeine 3:22).

R. T. France som in sy kommentaar (Matthew) die boodskap van hierdie gedeelte só op:

"17 Ek het nie gekom om die Ou Testament tersyde te stel nie, maar om die vervulling te bring waarop dit gewys het. 18 Want geen deel daarvan kan ooit tersyde gestel word nie, maar alles moet vervul word (soos dit nou vervul word in my bediening en lering). 19 So 'n Christen wat enige deel van die Ou Testament verwerp, is 'n minderwaardige Christen; die konsekwente Christen sal deur die Ou Testament gelei word, en sal ander daarvolgens leer. 20 Maar 'n eg Christelike gesindheid is nie die wettisisme van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, maar 'n dieper verbintenis om die wil van God te doen, soos v. 21vv. sal illustreer."

1. Jesus wy uitvoerig in die bergrede (Matteus 5-7) uit oor die blywende betekenis van die wet. Wat staan vir jou uit van sy beskrywing van die wet in Matteus 5:17-20? Wat leer jy daaruit?

2. Wat is die ware bedoeling van die wet? Loof die Here dat Hy so duidelik sy wil vir ons gee en ons seën sodat ons die wet kan nakom.

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner dat juis Jesus jou aanspoor om die wet na te kom.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Matteus 5 met die tema: Jesus fokus op die stryd vir geregtigheid.

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More