Wie Is God?Sample
Wat is die wet soos God dit in die Tien Gebooie vasgestel het? – Psalm 119:121-128
Die kumulatiewe gewig van die getuienis van Psalm 119 dat God se openbaring saak maak, begin in hierdie sestiende deel van die Psalm my bewussyn só diepsinnig binnedring dat dit vir my voel asof die Psalmis se ervarings en gebede my eie raak.
·Aan die een kant oorrompel die geheel boodskap van die Psalm my "dat dit goed gaan met dié wat wandel volgens die woord van die Here.“ "Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond ... U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad” (Psalm 119:103,105).
·Aan die ander kant is ek net so intens bewus van die pyn en verguising wat saamgaan daarmee om die openbaring van die Here onwrikbaar en sorgvuldig na te kom (Psalm 119:128). En bid ek ook die gebed van die Psalmis: “Ek het gedoen wat reg en regverdig is, moet my tog nie oorgee aan die genade van dié wat my veronreg nie” (Psalm 119:121).
En kan ek vandag elkeen van hierdie verse van harte bid: “Tree tog vir my in dat dit met my goed kan gaan, moenie toelaat dat hovaardige mense my verdruk nie” (Psalm 119:122). As dit dan só is dat dit goed gaan met dié wat wandel volgens die Woord van die Here, soos die Psalm sê, waarborg dit dan vir my; sorg dat dit vir my in vervulling laat gaan; sorg dat die goeie my nie verbygaan nie ...
·“Ek smag na die bevryding wat U bring, na u woord wat my red” (Psalm 119:123).
·“Handel met my volgens u troue liefde” (Psalm 119:124a).
Die oplossing vir die pyn van dissipelskap lê egter nie in die vermyding van die pyn van gehoorsaamheid nie, maar in die omhelsing daarvan, om IN die pyn te leer wat God se voorskrifte is. Want, dit is dié wat ly wat gehoorsaamheid leer ken, wat deur God geleer word, hoe nou verder. Dit is die punt van dié Psalm. Ons is God se diensknegte beide in die ervaring van sy troue liefde as in die ervaring van die pyn van gehoorsaamheid. Daarom, steeds die versugting, selfs en veral in die pyn van navolging: “leer my u voorskrifte” (Psalm 119:124b).
Ek het altyd gewonder wat presies dit beteken dat Jesus gehoorsaamheid geleer het deur sy pyn, tot ek Hebreërs 2 vroeër bestudeer het en agtergekom het dat die pyn van gehoorsaamheid jou verlos van jou vrees vir die dood. Trouens, die deelkry aan die “littekens van Jesus” is ons “handelsmerk” as kinders van die Here. Paulus gebruik dié beskrywing in Galasiërs 6:7 waar hy verwys na die wonde wat hy in sy navolging van die Here opgedoen het. Die wonde het hom “gekenmerk” (die Griekse woord stigma word gebruik) as ‘n volgeling van Jesus. Die wonde was nou sy “handelsmerk”.
Lyding in gehoorsaamheid het egter nie net die effek dat dit jou vrees vir die dood wegneem nie, maar dit verdiep ook jou vreugde om een met die Leidsman en Voleinder van ons geloof te wees, as jy ook deel in sy lyding. Daar is ‘n ongekende diep vreugde — iets wat jy net leer ken as dit gebeur — in ‘n mens as jy bevoorreg genoeg is om vir die Here te ly. Lyding oortuig jou op ‘n vreemde, maar diepsinnige manier, dat jy deel is van sy heilige familie!
1. Hoe belangrik is dit om die wet en die waarheid daarvan na te volg ten spyte van teenstand en leuens?
2. Dink aan mense wat hulle lewe daaraan gewy het. Dank die Here vir hulle. Verbind jou daaraan om die Here in alles te gehoorsaam.
3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan jou belofte van gehoorsaamheid ten spyte van.
4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Psalm 119 met die tema: Dit gaan goed met dié wat wandel volgens die Woord van die Here.
Scripture
About this Plan
Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.
More