Wie Is God?Sample
Wat is die Bybel? – Romeine 15:4 en Hebreërs 4:12
Let op hoe Paulus die praktiese deel van sy brief koppel aan die voorbeeld van Christus (Romeine 15:1-6), wie se evangelie ’n impak op alle nasies het (Romeine 15:7-13), waarvoor Paulus sy lewe gegee het (Romeine 15:14-21) en wat hy wil afrond deur hulle te besoek (Romeine 15:22-33).
Soos Christus nie aan Homself gedink het nie, moet dié wat sterk is in geloof die swakhede verdra (grondteks sê dra) van dié wat nie sterk is nie. Soos Christus Hom ingestel het op wat ons kan bou in die geloof, só moet ons dit ook vir medegelowiges doen. Dít doen Hy, en dít moet ons doen, sodat daar eensgesindheid onder die gelowiges kan wees.
Die Hebreërskrywer wy uit oor die hoofinstrument wat ons daarvoor inspan, naamlik die Woord. Hy roep ons op om te waak daarteen dat mense nie in ongeloof verval nie. Ons moet versigtig wees dat dit nie uiteindelik blyk dat iemand agtergebly het nie. Daarom moet die Woord van God toegelaat word om sy kragtige (effektiewe) werk in ons lewe te doen, soos ’n lewende, skerp tweesnydende swaard.
Dit is duidelik dat die Woord van God — soos ’n swaard — nie net oopmaak wat verborge is nie, maar inderdaad ook kan oopsny wat pyn tot gevolg kan hê. “Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes.” Die Woord van God ontbloot en maak sigbaar wat in ons harte aangaan, as ons toelaat dat Hy die lewende swaard, sy Woord, inspan.
Daarom moet ons toelaat dat ons voornemens en gedagtes beoordeel word deur die Woord van God. Daarin speel die skrifgeworde Woord van God, die Bybel, sowel as die vleesgeworde Woord van God, Jesus, ’n beslissende en bepalende rol. Ons hele lewe sal immers aan God verantwoord moet word.
1. Wat is God se doel met die Bybel?
2. Wat gee God deur die Bybel vir jou?
3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan God se krag in ons lewe deur die Woord.
4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Romeine 15-16 en Hebreërs 3-4 met die temas: Aanvaar mekaar soos Christus julle aanvaar het, en Waak daarteen dat geeneen van julle van die lewende God afvallig word nie.
Scripture
About this Plan
Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.
More