YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 41 OF 364

Wat is die Bybel? — Die getuienis van die belydenisskrifte

1. Lees die aanhalings uit die belydenisskrifte hieronder. Wat leer jy van die Bybel? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 3 en 5

Artikel 3

DIE GESKREWE WOORD VAN GOD

Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van 'n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê (2 Petrus 1:21). Daarna het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (die profete en apostels) beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel, en Hy self het met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe. Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige en Goddelike Skrif.

2 Petrus 1:21; Psalm 102:19,. Eksodus 17:14 (Deuteronomium 3); Eksodus 34:27; Deuteronomium 5:22; Eksodus 31:18.

Artikel 5

DIE GESAG VAN DIE HEILIGE SKRIF

Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.

Westminster Geloofsbelydenis

Hoofstuk 1 Heilige Skrif

4. Die Bybel praat gesagvol en verdien dus om geglo en gehoorsaam te word. Hierdie gesag hang nie af van die getuienis van enige mens of kerk nie, maar heeltemal van God, die outeur daarvan, wat self waarheid is. Die Bybel moet dus as waar aanvaar word, want dit is die Woord van God. 9

·9. 2 Petrus 1.19,21, 2 Timoteus 3.16, 1 Johannes 5.9, 1 Tessalonisense 2.13, Galasiërs 1.11-12.

5. Ons kan deur die getuienis van die kerk beïnvloed word om die Bybel hoog en eerbiedig te waardeer, en die Skrif self wys op soveel maniere dat dit die Woord van God is; byvoorbeeld, in sy geestelike onderwerp, in die doeltreffendheid van sy onderrig, die majesteit van sy styl, die ooreenstemming van al sy dele, sy verenigde doel van begin tot einde (om alle eer aan God te gee), die volle openbaring wat dit maak van die enigste weg van die mens se redding, sy vele ander onvergelyklike uitstaande kenmerke, en sy volledige volmaaktheid. Ons is egter heeltemal oortuig en verseker van die onfeilbare waarheid en goddelike gesag van die Bybel slegs deur die inwendige werking van die Heilige Gees, wat deur en met die Woord in ons harte getuig. 10

·10. 1 Timoteus 3.15, 1 Johannes 2.20,27, Johannes 16.13-14, 1 Korintiërs 2.10-12, Jesaja 59.21, 1 Korintiërs 2.6-9.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die inhoud van hierdie geloofsbelydenisse jou gee.

Day 40Day 42

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More