Wie Is God?Sample
Wat is die Bybel? – Eksodus 17:14; 34:27
Eksodus 17 brei uit oor die interne uitdagings wat die volk regdeur die woestyn sou hê rondom water. Dit sou die mees vanselfsprekende area van hulle lewens wees waarvoor hulle volledig van God afhanklik sou moes bly. Daar was ook eksterne uitdagings van hulle vyande. In die geveg teen die Amalekiete gee Moses praktiese opdragte aan Josua terwyl hulle steeds op die Here vertrou, gesimboliseer deur die kierie wat Moses met die hulp van Aäron en Hur sou regop hou. Die feit dat die uitslag van die geveg afgehang het van Moses se kierie simboliseer die feit dat die uitkoms van die geveg ten diepste van God se hulp afgehang het.
Nadat Josua die oorwinning behaal het, gee die Here ‘n belangrike opdrag wat van hierdie punt af vorentoe ‘n geweldige impak in die lewe van die Joodse volk sou hê. Moses moet die gebeure van die oorwinning in ’n boek opskryf as ’n blywende herinnering en dit vir Josua voorlees. Aan die een kant het dit met ‘n boodskap teen die Amalekiete te make wat die Here van die aarde af wou verdelg. Aan die ander kant was dit die begin van die skriftelike tradisie van oorlewering van die groot dade van God, en daarmee natuurlik ook die begin van die Tora en uiteindelik die hele Bybel.
Eksodus 34 beskryf die hernuwing van die verbond en gee aandag aan die uitbreiding van die eerste tafel van die wet se vier gebooie met 'n ekstra 12 gebooie. Ook dié gebooie word neergeskryf (Eksodus 34:27) om 'n skriftelike nalatenskap aan die volk te gee sodat alle volgende geslagte hulle daaraan kan hou.
1. Dit is waar dit alles begin het. God wat sy woord op skrif stel ter wille van Josua en die hele volk. Wat leer jy uit die tekste van God se bedoeling met die Skrif?
2. Dink daaroor dat dit beide historiese gebeure sowel as etiese riglyne is wat eerste neergeskrywe is. Wat leer dit jou van die bedoeling van die Skrif?
3. Lees die gedeelte later vandag weer om jou aan die betroubaarheid van die Skrif te herinner.
4. Jy kan later vanaand die gedeeltes weer lees in die konteks van Eksodus 17 en 34 met die temas: Is die Here by ons of nie?, en Ek is barmhartig en genadig, maar Ek laat niks ongestraf nie.
Scripture
About this Plan
Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.
More