YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 38 OF 364

Wat is die Bybel? – Psalm 119:105-112

Die eerste vers van die veertiende deel van Psalm 119 is seker een van die meer bekende verse in die Bybel: “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad” (Ps 119:105). Omdat die Woord van God vir hom insig bring en rigting gee in die lewe werp hy daarom alles in die stryd om daaraan gehoorsaam te wees. Hy bevestig dit met ‘n eed en hou hom daarby.

Selfs al kry hy swaar in sy gehoorsaamheid aan die Woord van God, kom hy dit na, terwyl hy hom ook verlaat op God se belofte en Hom smeek: “maak my in die lewe, soos U beloof het” (119:107). In sy smeekgebed om uitkoms, bly hy egter steeds getrou om die Here te loof: “Neem tog my dank aan, Here. Leer my u bepalings” (119:108).

Vers 109 is ‘n besondere getuienis van sy onwrikbare keuse om gehoorsaam te wees. Dit lui letterlik: “My siel/lewe (is) in my hande/handpalms voortdurend/gedurig, en/maar u wet vergeet ek nie.” Die NAV vertaal pragtig op dinamiese wyse: “My lewe is gedurig in gevaar, maar u wet verontagsaam ek nie.” Die NIV vertaal dit selfs vir my nog beter: “Though I constantly take my life in my hands, I will not forget your law.” Die vers dra dus die betekenis dat die Psalmis op berekende wyse aan God se wet getrou bly, ten spyte van die feit dat dit hom in gevaar bring.

Dié gevaar is veral van die goddelose wat vir hom strikke stel, maar hulle versteur nie die verbintenis aan God wat hy gemaak het nie. Die Here se openbaring is sy “blywende erfporsie” waarop hy altyd fokus om dit sy eie te maak.Dit is die vreugde van sy hart. Hy sal altyd daaraan getrou bly: “vir altyd, tot die einde toe.

1. Psalm 119 besing die wonder van die Woord van God. Onderstreep al die beskrywings daarvan en oordink die betekenis daarvan vir jou. Watter vreugdes het die Woord al vir jou gegee?

2. Gebruik dié verse as ‘n dank- en lofgebed in jou eie woorde. Onthou ook dat die Psalmis praat van die strikke van bose mense wat sy lewe in die weegskaal bring. Bring jou eie situasie voor die Here en bid vir volhardende gehoorsaamheid en vertroue.

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die wonder van die Woord van God.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Psalm 119 met die tema: Dit gaan goed met dié wat wandel volgens die Woord van die Here.

Day 37Day 39

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More