Wie Is God?Sample
Wat beteken dit vir jou dat God alles gemaak het? — Johannes 1:1-5
Johannes maak reg aan die begin van sy evangelie vier verklarings oor die wese van die Woord, die Logos.
- Dat die Logos van die begin af is.
- Dat die Logos die Woord van God is.
- Dat die Logos God self is.
- Dat die Logos van die begin af by God is.
Johannes volg dit op met vier verklarings oor die werk van die Woord van God.
1. Alles het deur Hom ontstaan. Letterlik alles. Daar is niks wat nie deur Hom ontstaan het nie. Niks nie. Hy is dus die Een wat God gebruik het om te skep. Die Joodse lesers sou onmiddellik aan die skeppingstradisie in die OT gedink het, nl dat God "deur die woord [dabar] van die Here” geskep het (Psalm 33:6). Dat God aan die begin geskep het deur eenvoudig te praat: “God het gesê ...” (Genesis 1:3). Dit word nou hier van die Logos bely.
2. Dit wat ontstaan het deur Hom, was lewe. Hy was en is die bron van lewe vir alles. Dit dui dus op meer as net dat alles wat lewe hulle ontstaan het deur Hom. Dit ook; maar wat Johannes hier sê, is dat die hele beginsel van lewe van die Woord af kom. Sonder Hom is daar geen lewe moontlik nie. Soos hy talle kere in sy evangelie sal herhaal. Die Grieke sou in hierdie gebruik van die woord iets gehoor het van wat die filosoof Heraklitus van Efese reeds in die 6de eeu vC geskryf het, dat die logos die beginsel is waardeur orde uit chaos geskep word. Dit is nou aan hierdie Logos verbind.
3. Dit is waarom die lewe, die lewe in die Woord, die lig vir die mense kon wees, hulle die wil van God kon leer, as hulle net daarop sou ag slaan.
4. Dit is egter ook van die begin af duidelik dat die lig in die duisternis geskyn het, en dat die duisternis die lig nie begryp het nie. Die Griekse woord katelaben wat met “begryp” vertaal word, het hier ‘n dubbele betekenis. Dit dra ook die betekenis dat die duisternis die lig nie kon “oorwin” of “bemeester” nie. Daar is dus van die begin af ‘n skeiding tussen lig en duisternis, soos die skeppingsverhaal ook vertel (Genesis 1:2). Aan die een kant kan die duisternis die lig nie begryp nie. Aan die ander kant kan die duisternis die lig ook nie oorwin nie. Een kers verdryf die donker, by wyse van spreke.
Hiermee begrond Johannes die ander uitsprake oor Jesus in sy evangelie in die lewe wat die Woord skep. Jesus is immers die Lig vir die wêreld, die Brood van die lewe, die Lewende water, die Goeie Herder. Selfs iets soos die verandering van water in wyn in Kana (Johannes 2) dra hiermee die betekenis van oorvloedige lewe.
1. Johannes verbind die skepping aan die Genesis-verhaal wat God se goeie skepping en oorvloedige voorsiening verheerlik. Hoe hou dit verband met Jesus Christus?
2. Jesus Christus word hier as God beskryf – “die Woord het mens geword en onder ons kom woon” (1:14). Watter troos hou die beskrywings van Hom as lewe en lig vir jou in? Watter hoop hou dit vir hierdie wêreld in?
3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die lewe en lig wat die Here Jesus vir jou gee.
4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Johannes 1 met die tema: Die genade en waarheid van Jesus sluit die lewe oop.
Scripture
About this Plan
Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.
More