YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 11 OF 364

Wat is die Drie-eenheid? — Kolossense 1:15-17; 1 Johannes 5:7-8

Let op die digterlike taal van Kolossense 1:15-20 wat dit waarskynlik maak dat dit ‘n lied is wat die geloof van die vroeë kerk verwoord het, moontlik met byvoegings van Paulus. Dit is in twee parallelle strofes opgedeel: vers 15-17 (skepping) en vers 18-20 (herskepping), waarin dieselfde sake besing word, telkens uit ‘n ander hoek (skepping/herskepping): die wese/oorsprong van die Seun, sy status (Eerste) en werk in die hele kosmos, sowel as in die kerk, en sy versoenende rol in hemel en op aarde.Hiermee poog Paulus om die verkeerde idees wat onder hulle begin posvat in die kiem te smoor.

Let op hoe God as verhewe bo die Skepping geteken word. God is dus nie deel van die Skepping nie, maar skep dit as iets wat onder sy beheer en versorging staan. Let ook op dat daar van sigbare en onsigbare wesens gepraat word, en dat dit alles deur God geskep is. Paulus beklemtoon dit onder andere omdat daar van die gelowiges in Kolosse was wat bv engele aanbid het. Hiermee wys Paulus dat hierdie wesens onder God is, deur Hom gemaak is, en daarom nie voorwerpe van aanbidding kan wees nie. Jesus het ‘n besondere rol gespeel in die Skepping, in sy voor-menslike bestaan. Alles is deur Hom en vir Hom geskep.

1 Johannes 5:7-8 beklemtoon dat geloof bewerk word deur die Heilige Gees se getuienis in elke gelowige, in samewerking met die getuienis van die water (Jesus se doop as die begin van sy bediening, waar God Hom met Jesus as sy geliefde Seun geïdentifiseer het — Markus 1:9-11; Johannes 1:32-34) en die bloed (Jesus se kruisdood – Johannes 19:33-37).Ons moet dit helder verstaan, sê Johannes. Dit is God wat geloof in ons hart kweek deur die getuienis van die Heilige Gees op grond van die werk van die Here Jesus Christus. Elkeen wat in Jesus Christus glo, het daarom dié getuienis in hom- of haarself. En die inhoud daarvan is dat die ewige lewe in Jesus Christus vir ons gegee is as geskenk. “Wie die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.”

1. Onderstreep die beskrywings van die Drie-eenheid. Wat staan vir jou uit van elke persoon?

2. Die beskrywings van die Drie-eenheid word aan die skepping en die herskepping in Jesus gekoppel. Hoe verryk dit jou gedagtes oor Jesus?

3. Hoe verdiep die getuienis van Johannes jou sekerheid dat Jesus ook jou lewe in sy hand hou?

4. Jy kan later vanaand albei gedeeltes lees in die konteks van Kolossense 1 en 1 Johannes 5 met die temas: 1) Om God te ken en vir Hom te lewe, en 2) Geloof is die getuienis van God se werk in ons lewe.

Day 10Day 12

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More