Wie Is God?Sample
Wat is die mens? — Genesis 1:26-28
Die mens word as verteenwoordiger (gelykenis) en beeld van God beskryf, ‘n baie diepsinnige begrip. Daar is ook hieroor al baie geskryf. Ek gee net drie belangrike perspektiewe daarop:
- Die feit dat ons verteenwoordigers en beeld van God is, is in die eerste plek ‘n relasionele begrip. Dit dui die mens as in verhouding met God aan. God tree met ons in verhouding en ons kan met God in verhouding tree. Dié verhouding sluit in dat ons Hom verteenwoordig op aarde. Ons is in ‘n besondere sin gestaltes van God op aarde.
- Dit is in die tweede plek duidelik dat ons in ons hele menswees, selfs in ons binêre geslagtelikheid, verteenwoordigers en beeld van God is. Menswees sluit van die begin af beide die manlike en vroulike gestalte van menswees in. Die punt is dat daar niks uitgesluit is van ons bestaan, weliswaar in ons vóór-sondeval staat, wat nie ook deel is van ons status as beeld van God nie. Ook ons liggaamlikheid is deel van ons status as beeld van God.
- Dit is in die derde plek ook duidelik dat ons as verteenwoordigers en beeld van God ‘n baie spesifieke funksie het op die aarde wat met die drie woorde bewoon, bewerk, en bewaar (heers regverdig) uitgedruk kan word. God het mense gemaak om Hom in die aardse ekologie te verteenwoordig, om die “tuin” met alles daarin te bewoon, te bewerk en te bewaar (vgl. Genesis 2:15). Dit is waarom God die mens in die tuin van Eden plaas en seën, dit waaroor die volgende hoofstuk gaan handel. Dit beteken ook dat bewoon, bewerk en bewaar fundamenteel is tot die mense se bestaansdoel en werk in hulle tuiste op aarde.
‘n Laaste belangrike perspektief uit die ses skeppingsdae, en een van die temas wat regdeur die Bybel voorkom, is die ervaring van God se seën. God seën hier die diere en voëls met vrugbaarheid en ’n ruimte om in te floreer. God seën ook die mens met vrugbaarheid en ’n ruimte om te floreer. Dit gee ons ‘n belangrike kykie in God se hart, dat Hy nie net ‘n waarderende uitspraak maak oor die lewende wesens wat Hy geskep het nie – dit is goed – maar dat Hy inderdaad hulle seën om te floreer. Hy doen ook iets meer vir die mens, iets wat deel is van sy seën vir hulle. Hy gee die mens ’n opdrag, ’n bestaansdoel, ’n roeping vir die aarde: om die aarde te bewoon, te bewerk en te bewaar.
1. Onderstreep die beskrywings van die mens. Wat staan vir jou uit van God se skepping en opdrag?
2. Die beskrywings van die mens word aan God se beeld gekoppel sowel as aan hulle geslag. Watter boodskap hou dit vir menswees in? Wat gee dit vir jou? Wat vra dit van jou?
3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan jou ooreenstemming met God en sy opdrag aan jou.
4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Genesis 1 en 2 met die temas: 1) In die begin het God die hemel en die aarde geskep, en 2) Dit is nie goed dat die mens alleen is nie.
Scripture
About this Plan
Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.
More