YouVersion Logo
Search Icon

Die Weg, Die Waarheid en Die LeweSample

Die Weg, Die Waarheid en Die Lewe

DAY 33 OF 40

Dag 33 – Jesus se laaste woorde aan die kruis deel 1

Jesus Christus het volgens die vier evangelies sewe finale woorde in sy laaste ure aan die kruis gesê. Hierdie woorde word reg deur die eeue deur Christene as heilig beskou omdat dit ʼn perspektief bied op die diepte van Jesus se lyding om ons verlossing te bewerkstellig. Hierdie sewe woorde is opgeteken in die evangelies tussen die tyd van sy kruisiging en sy dood, en openbaar sy goddelikheid sowel as sy menslikheid.

1) Jesus se woord van vergifnis – “En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. En hulle het sy klere verdeel en die lot daaroor gewerp” (Lukas 23:34). In sy bediening het Jesus sy krag bewys om sondes te vergewe. Hy het sy dissipels geleer om beide vyande en vriende te vergewe. Nou het Jesus beoefen wat hy verkondig het, en sy eie vyande aan die voet van die kruis vergewe. Jesus se eerste kruiswoord laat ons klein voel. Jesus is verraai, geslaan en op gespoeg. Die Romeinse wagte het gedobbel vir sy kleed terwyl Hy gely het.

Toe die wêreld teen Hom was, het Hy een ding gebid: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hoeveel van ons koester wrokke vir kleiner oortredings? Sommige van ons laat na om met ou vriende en familielede te praat as gevolg van seer in die verlede. Maar die voorbeeld van Jesus wat geslaan, gegesel en verneder is, is om vergifnis te kies.

2) Jesus bedien die misdadiger aan die kruis – “Jesus antwoord hom: 'Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.'" (Lukas 23:43). Jesus was nie die enigste man wat daardie noodlottige dag gesterf het nie. Die twee misdadigers links en regs van Hom is ook op kruise gehang. Ons vind twee baie verskillende reaksies op hulle kruisiging. Die een misdadiger spot met Jesus en daag Hom uit om te bewys dat Hy die Messias is, maar die ander misdadiger het hom bestraf en erken dat hulle regverdig gestraf is (Lukas 23:39). Die misdadiger neem drie belangrike stappe wat redding verseker. Eerstens het Hy 'n eerbied vir God (gesonde vrees en respek).

Vervolgens erken hy sy eie foute en sondige natuur. Die misdadiger neem dan die laaste stap in die rigting van sy verlossing om Jesus as Here te bely. Die veroordeelde man het Jesus as Here en ʼn ewige koning verklaar: “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom” (Lukas 23:42). Jesus het die man belowe dat hy daardie selfde dag die ewige lewe saam met Christus in die paradys sou deel. Sy geloof het vir hom 'n onmiddellike redding tot God se koninkryk verseker.

Day 32Day 34

About this Plan

Die Weg, Die Waarheid en Die Lewe

Hierdie leesplan is ʼn veertig dae reis in die lig van Jesus se woorde :"Ek is die weg, en die waarheid en die lewe" (Joh.14:6). Net na Jesus se hemelvaart was mense bekend as "mense van die weg"; hierdie het gedui op Jesus wat die weg was na God, en, tweedens, die leefwyse wat hulle gevolg het. Hierdie leesplan volg Jesus se lewe sodat ons soos Hy kan leef.

More