Die Weg, Die Waarheid en Die LeweSample
Dag 32 – Jesus se lyding
Volgens God se verlossingsplan was dit nodig vir Jesus, die Messias om te ly ter wille van die verlossing van die mensdom. Jesus se lyding was profeties voorspel deur Jesaja meer as 400 jaar voor Jesus se geboorte: “Hy was verag en verwerp deur mense, iemand wat leed en pyn geken het. Hy was soos iemand vir wie mense die gesig wegdraai, verag en ons het hom nie geag nie.
Tog was dit ons swakhede wat hy gedra het. Hy het ons pyn verduur. Ons het aan hom gedink as dat God hom slaan, kasty en teister. Hy is geslaan en gepynig ter wille van ons sondes. Hy is gestraf sodat ons in vrede kan leef. Hy is geslaan sodat ons gesond kan word” (Jesaja 53:3-5, NLV). Jesus het self voorspel dat Hy baie gaan ly (Matteus 17:12; Lukas 17:25).
In die tuin van Getsemane was Jesus bewus dat hierdie tyd nou aangebreek het en was Hy nou besig om voor te berei vir sy lyding en dood. Daar het Hy met inspanning gebid en gesê: “Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!” (Lukas 22:42). Sy worsteling was so groot dat Hy letterlik bloed gesweet het (Lukas 22:44). Om die loon vir die sonde van die mensdom te betaal, was geen geringe saak nie.
Die skrif vertel nie spesifiek of die Satan Jesus in die tuin versoek het nie, maar die feit dat die Vader ʼn engel stuur om Hom te versterk impliseer dit. Die Satan was suksesvol in die tuin van Eden om Adam en Eva te verlei om teen God se wil in te beweeg maar hy was nie suksesvol in die tuin van Getsemane met Jesus nie. Jesus het voor sy beker van lyding te staan gekom en was bereid om God se wil te doen deur die beker van lyding te drink.
God het 'n plan gehad en Jesus, ten spyte van die oorweldigende graad van moeilikheid, was bereid om dit uit te voer. Jesus se lyding het met sy arrestasie begin en voortgeduur totdat Hy sy laaste asem uitgeblaas het. Sonder twyfel was sy lyding meer as wat enige mens kan verduur. Petrus en die ander dissipels het nadat Jesus gearresteer is gevlug omdat hulle lyding gevrees het.
Daardie nag het Petrus ʼn belangrike les oor lyding geleer. Wanneer die beker van lyding ons in die gesig staar is dit belangrik om Jesus se voorbeeld te volg deur te vra of dit sy wil is. Wanneer ons voor ons beker te staan kom word ons net soos Jesus versoek om op te gee of om ongeduldig te wees en sake in ons eie hande te neem.
Maar ons kan weet dat wanneer ons ons wil onderwerp aan die wil van die Vader ons ook versterk en bemoedig sal word soos Jesus is sodat ons ook ons missie kan uitvoer. Ons moet God se wil soek bo ons eie. Daarom skrywe Petrus jare hierna: “Omdat Christus dan liggaamlik gely het, moet julle julle ook met die gedagte wapen dat wie liggaamlik gely het, met die sonde afgereken het" (1 Petrus 4:11). “Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle 'n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg” (1Petrus 2:21).
Miskien ervaar jy ook tans lyding, vervolging of swaar. Bid soos Jesus in die tuin!
Scripture
About this Plan
Hierdie leesplan is ʼn veertig dae reis in die lig van Jesus se woorde :"Ek is die weg, en die waarheid en die lewe" (Joh.14:6). Net na Jesus se hemelvaart was mense bekend as "mense van die weg"; hierdie het gedui op Jesus wat die weg was na God, en, tweedens, die leefwyse wat hulle gevolg het. Hierdie leesplan volg Jesus se lewe sodat ons soos Hy kan leef.
More