YouVersion Logo
Search Icon

Die Weg, Die Waarheid en Die LeweSample

Die Weg, Die Waarheid en Die Lewe

DAY 37 OF 40

Dag 37 – Jesus se opstanding

Die opstanding van Jesus Christus staan in die kern van die Christelike boodskap. In 1 Korintiërs 15 redeneer Paulus: “En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud” (1Korintiërs 15:14). Maar dan verklaar Paulus triomfantelik: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het” (1 Korintiërs 15:20). Wat bedoel ons met die opstanding van Christus?

Jesus Christus het in hierdie wêreld gekom om te sterf as die plaasvervanger vir ons sondes. Die sondelose Seun van God het gekom om sy lewe te gee as 'n losprys vir baie (Matteus 20:28). Op daardie eerste Goeie Vrydag is Jesus gekruisig. Ons weet hy het gesterf omdat een van die Romeinse soldate Jesus se sy met 'n spies deurboor het om sy dood te verseker. Van sy dissipels het toe sy liggaam in 'n nuwe graf begrawe (Johannes 19:30-42).

Terwyl Jesus gelewe het, het Hy voorspel dat Hy uit die dood sou opstaan. Hy het sy vyande uitgedaag: “Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig” (Johannes 2:19). Hulle het gedink Hy praat oor die fisieke tempel maar Hy het oor sy sterwe en opstanding gepraat. Jesus het op verskeie kere vir sy dissipels gesê dat Hy deur die leiers in Jerusalem doodgemaak sou word, maar op die derde dag lewend gemaak sou word. Die leiers wat Jesus doodgemaak het, was bewus van hierdie voorspelling dat Hy uit die dood sou opstaan.

Alhoewel hulle dit nie geglo het nie, wou hulle verseker dat dit nie sou gebeur nie, en daarom het hulle wagte by die graf geplaas (Matteus 27:62-66). Ten spyte van die voorsorg van die Jode en Romeine het Jesus uit die dood opgestaan. Tydens sy bediening op aarde het Jesus 'n aantal mense uit die dood lewend gemaak, insluitend Marta se broer Lasarus, wat vir vier dae dood was (Johannes 11). Maar die opstanding van Jesus Christus was anders. Dit was nie net ʼn herlewe soos die geval was met Lasarus, wat later weer gesterf het nie.

Op die derde dag is Jesus uit die dood opgewek met 'n verheerlikte liggaam wat met onsterflikheid en heerlikheid beklee was. Sy opstandingsliggaam kon verskyn en verdwyn, deur ʼn toe deur beweeg en na die hemel opvaar en neerdaal. As gevolg van die wonder van Christus se opstanding, het Jesus se teleurgestelde dissipels onmiddellik die evangelie met krag begin verkondig, en die opstanding van Jesus was die kern van hulle prediking.

Hoekom? Sonder die opstanding is daar geen Christenskap nie. Hierdie dissipels van Jesus het gewilliglik martelaarskap vir hulle geloof gely. Die vyande van die evangelie het alles probeer om te bewys dat Jesus nie opgestaan het uit die dood nie, maar was uiteindelik nie in staat om hierdie sentrale aanspraak van die evangelie te weerlê nie.

Hulle kon nie die liggaam van Jesus Christus wys en so die Christendom stopsit nie. Die eerste Joodse gelowiges was intussen so beïndruk deur hierdie wonderwerk dat hulle op die dag van Christus se opstanding, Sondag, eerder as op Saterdag begin aanbid het. In die nuwe Testamentiese tye vind ons diegene wat geweier het om in die opstanding te glo.

Daarom is ongeloof in die opstanding niks nuut nie, maar oor die eeue heen het mense getwyfel oor wonderwerke en veral in die wonderbaarlike opstanding van Jesus Christus. Maar diesulkes ignoreer die duidelike teks van die Nuwe Testament en die gewig van ooggetuies van meer as 500 mense. As ons glo in die bewyse van die opstanding van Jesus Christus soos dit in die Nuwe Testament opgeteken is, het dit besondere betekenis.

Die opstanding bewys dat Jesus Christus God is (Romeine 1:4). Ons verlossing hang af van ons geloof in die opstanding van Jesus Christus: “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word” (Romeine 10:9). Die opstanding van Jesus Christus demonstreer aan ons dat al die leringe van Jesus Christus waar is (Romeine 4:25). Die krag vir ons Christelike lewe is die krag van sy opstanding (Efesiërs 1:19-21; Romeine 6:4).

Die opstanding van Jesus Christus demonstreer ook dat Jesus Christus die aangewese uiteindelike regter van al die mense in die wêreld gaan wees (Handelinge 17:31; Johannes 5:22). Die opstanding van Jesus Christus hou ook die belofte in dat ons ook sal opstaan uit die dood (1Korintiërs 15:50-58).

Miskien moet jy nou vir ʼn oomblik stil word terwyl jy reflekteer op watter beloftes die opstanding vir jou persoonlik inhou.

Day 36Day 38

About this Plan

Die Weg, Die Waarheid en Die Lewe

Hierdie leesplan is ʼn veertig dae reis in die lig van Jesus se woorde :"Ek is die weg, en die waarheid en die lewe" (Joh.14:6). Net na Jesus se hemelvaart was mense bekend as "mense van die weg"; hierdie het gedui op Jesus wat die weg was na God, en, tweedens, die leefwyse wat hulle gevolg het. Hierdie leesplan volg Jesus se lewe sodat ons soos Hy kan leef.

More