Die Weg, Die Waarheid en Die LeweSample
Dag 35 – Jesus se laaste woorde aan die kruis deel 3
Jesus Christus het volgens die vier evangelies sewe finale woorde in sy laaste ure aan die kruis gespreek. In die vorige twee oordenkings het ons na die eerste vyf kruiswoorde gekyk. In hierdie oordenking fokus ons op die laaste 2 kruiswoorde.
6) Dit is volbring – “Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!” Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas” (Johannes 19:30). Jesus het geweet dat Hy die kruisiging met 'n doel gely het. Vroeër het Hy in Johannes 10:18 van sy lewe gesê: “Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af.
Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem” (Johannes 10:18). Hierdie drie woorde was propvol betekenis, want wat hier afgehandel is, was nie net Christus se aardse lewe nie, nie net sy lyding en sterwe nie, nie net die betaling vir sonde en die verlossing van die wêreld nie – maar die einste rede en doel waarvoor Hy aarde toe gekom het, was vervul.
Sy finale daad van gehoorsaamheid was volkome. Die Skrif is vervul. Jesus het die vonnis van al ons sondes gedra. Die prys vir elke fout en oortreding is ten volle betaal. Hy het die wet vervul en die werke van die duiwel eens en vir altyd vernietig. "Dit is volbring" is meer as 'n gesegde, dit is 'n strydkreet vir elke Christen. Die loon van die sonde mag die dood wees, maar met die offer van Jesus het ons die lewe en dit het ons in oorvloed! Ons hoef nie meer die dood te vrees nie.
7) Jesus se laaste woorde – “Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas” (Lukas 23:46). Hier sluit Jesus af met die woorde van Psalm 31:5, gerig aan God die Vader: “In u hand gee ek my gees oor; U het my verlos, HERE, God van trou” (Psalm 31:6). Ons sien sy volkome vertroue in sy Hemelse Vader.
Jesus het die dood binnegegaan op dieselfde manier as wat hy elke dag van sy lewe geleef het, deur sy lewe as die volmaakte offer op te gee en Homself in God se hande te plaas. Jesus het self verklaar dat niemand sy lewe kan afneem nie maar dat Hy dit self neerlê en dit is wat in die oomblik gebeur (Johannes 10:18). Jesus het gewillig gely en gesterf. Hy het dit aan die kruis gedoen, nie net omdat dit op die oomblik God se wil was nie, maar dit was God se wil van die begin af.
Scripture
About this Plan
Hierdie leesplan is ʼn veertig dae reis in die lig van Jesus se woorde :"Ek is die weg, en die waarheid en die lewe" (Joh.14:6). Net na Jesus se hemelvaart was mense bekend as "mense van die weg"; hierdie het gedui op Jesus wat die weg was na God, en, tweedens, die leefwyse wat hulle gevolg het. Hierdie leesplan volg Jesus se lewe sodat ons soos Hy kan leef.
More