Die Weg, Die Waarheid en Die LeweSample
Dag 31 – Jesus wek Lasarus op uit die dood
Die drie sinoptiese evangelies, Matteus, Markus en Lukas gee grootliks ʼn verslag van Jesus se lewe in Galilea en rondom die see van Galilea. Die evangelie van Johannes fokus weer op Jesus se bediening en lyding in Jerusalem meer as enige ander van die evangelies.
Dit is onbekend hoeveel keer Jesus na Jerusalem gereis het en die tyd wat Hy daar deurgebring het. Die Skrif maak dit net duidelik dat Hy gereeld Jerusalem besoek het vir verskeie van die Joodse feeste soos Paasfees en Loofhuttefees. Tydens hierdie feeste was daar baie mense om sy boodskap te hoor. Die Joodse en Romeinse owerhede het ook ʼn baie noukeurige oog gehou op Jesus se teenwoordigheid in Jerusalem.
Die boek Johannes vertel die verhaal van Jesus se optrede tydens die bywoning van die feeste. Hy het ook verskeie besoeke aan nabygeleë voorstede van Jerusalem soos Betanië en Betfage gebring. Johannes vertel ook onder andere die verhaal van Lasarus se dood en hoe Jesus na Lasarus se huis ontbied is (Johannes 11). Hy het egter verkies om twee dae lank te wag voordat Hy van Galilea na Betanië toe vertrek het. Teen die tyd dat Jesus daar aangekom het, was Lasarus reeds vier dae dood.
Die Skrif vertel dat baie Jode uit Jerusalem, weens Betanië se nabyheid (ongeveer drie km van Jerusalem af) na Maria en Marta se huis gekom het om die twee susters te troos. Jesus het hier sy vyfde “Ek is” stelling gemaak aan Marta: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?” (Johannes 11:25-26).
Jesus het Lasarus uit die graf uitgeroep en Lasarus het uit die dood uit opgestaan. Gevolglik weens die bonatuurlike aard van die wonderwerk en ook weens die feit dat daar baie Jode teenwoordig was, het nuus vinnig na Jerusalem versprei van die wonderwerk. Hierdie wonderwerk het veroorsaak dat die Jode saamgespan het om Jesus om die lewe te bring.
Hierdie wonderwerk van Jesus moet jou vul met hoop dat jou geloof in Jesus al die verskil in jou lewe maak en as jy in Hom glo is Hy die weg tot die oorwinning oor die dood!
Scripture
About this Plan
Hierdie leesplan is ʼn veertig dae reis in die lig van Jesus se woorde :"Ek is die weg, en die waarheid en die lewe" (Joh.14:6). Net na Jesus se hemelvaart was mense bekend as "mense van die weg"; hierdie het gedui op Jesus wat die weg was na God, en, tweedens, die leefwyse wat hulle gevolg het. Hierdie leesplan volg Jesus se lewe sodat ons soos Hy kan leef.
More