Die Weg, Die Waarheid en Die LeweSample
Dag 30 – Jesus vertrek na Jerusalem
Omdat Jesus geweet het dat die tyd vir sy lyding en verheffing nader kom, "het Hy vasbeslote die tog na Jerusalem begin" (Lukas 9:51). Die vasbeslotenheid was letterlik op Jesus se gesig sigbaar. Hy was vasbeslote om Jerusalem toe te gaan ten spyte van die koste. Hy het geweet dat Hy in Jerusalem gaan sterwe en het dit konsekwent aan sy dissipels gesê en was vasbeslote om dit te doen al was dit ten koste van sy lewe: “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel” (Matteus 20:18).
Dit was sy missie om die mens te dien en sy lewe as ʼn offer te gee: “... net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ʼn losprys vir baie” (Matteus 20:28). Jesus het die weg van bestemming gemodelleer vir elke gelowige, want elke mens het ʼn bestemming wat moet bereik word met intensie en vasbeslotenheid.
Hoe vasbeslote is ons om te doen wat ons weet gedoen moet word, ongeag wat dit ons kan kos? Die Hebreër skrywer moedig ons aan om Jesus se voorbeeld hierin te volg: “Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.
Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. Hou Hom voor oë wat so 'n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie” (Hebreërs 12:1-3).
Soms raak ons as Christene moeg vir die uitdagings, opdraandes en moeilikheid van ʼn daaglikse lewe. Dit is wanneer ons wil moed en vertroue opgee op God, ons eie geloof en ons waardes. Maar Jesus demonstreer aan ons as die weg van die lewe dat ons vasbeslote ons reis na nuwe Jerusalem moet onderneem maak nie saak hoe moeilik dit vir ons voel of watter opdraandes voorlê of watter moeilikheid ons voorsien nie!
Soos die skrywer van Hebreërs dit stel ons moet ons oë vasgenael op Jesus hou as ons rolmodel dan sal ons nie uitsak en tou opgooi nie!
Scripture
About this Plan
Hierdie leesplan is ʼn veertig dae reis in die lig van Jesus se woorde :"Ek is die weg, en die waarheid en die lewe" (Joh.14:6). Net na Jesus se hemelvaart was mense bekend as "mense van die weg"; hierdie het gedui op Jesus wat die weg was na God, en, tweedens, die leefwyse wat hulle gevolg het. Hierdie leesplan volg Jesus se lewe sodat ons soos Hy kan leef.
More