Die Weg, Die Waarheid en Die LeweSample
Dag 26 – Jesus se voorbeeld as die weg
Vroeg in Jesus se bediening, nadat Hy die dissipels geroep het om Hom te volg, het Hy hulle na 'n bruilofsfees in Galilea geneem en sy eerste wonderwerk daar gedoen (Johannes 2:1-11). Om die reis na Galilea te onderneem, die bruilof by te woon en dan vir 'n paar dae saam met sy familie na Kapernaüm te reis, het beteken dat Hy baie tyd met sy dissipels deurgebring het (Johannes 2:12). Dit was ongetwyfeld 'n tyd van onderrig, die beantwoording van vrae en die verdieping van vriendskap. Van daar af het Jesus opgegaan na die Pasga en Nikodemus ontmoet (Johannes 2-3).
Hierna, vertel Johannes opsommend: “...het Jesus en sy dissipels na die land van Judéa gegaan, en Hy het daar met hulle 'n rukkie gebly en mense gedoop” (Johannes 3:22). Jesus het die tyd deurgebring saam met sy volgelinge. Verhoudings neem tyd om te ontwikkel. Jesus het geweet dat daar geen maklike manier was om hierdie proses te bespoedig nie.
Hy het in hierdie eerste fase 18 maande lank met sy dissipels deurgebring. Vir Jesus was dit 'n kritieke stadium van hulle geestelike ontwikkeling. Hy het die weg die waarheid en die lewe vir hulle gemodelleer en wat dit beteken om te wandel soos Hy gewandel het (1 Johannes 2:6). Hy het geweet dat in hierdie eerste fase van hulle opleiding, net soos in die vroeë fases van kinderopvoeding, meer gesien, verstaan en aanvaar word as wat dit geleer word. Kinders leer meer deur te kyk en deel te neem as deur aantekeninge te maak.
In hierdie vroeë maande het Jesus ses grondliggende prioriteite vir sy nuwe volgelinge gemodelleer, naamlik :
• om te lewe in volle afhanklikheid van die Heilige Gees,
• die sentraliteit van gebed,
• die belangrikheid van gehoorsaamheid aan God die Vader,
• die sentraliteit van die Woord van God in lewe en bediening,
• om God die Vader op elke terrein van die lewe te verhoog,
• om in verhoudings, liefde en integriteit te demonstreer.
Hierdie ses prioriteite was die grondslag vir die manier waarop Jesus sy aardse lewe geleef het. Toe Jesus vir sy dissipels gesê het om te wandel soos Hy gewandel het, was dit hierdie prioriteite wat Hy wou hê hulle moes lewe en beliggaam (1 Johannes 2:6). Dit is hierdie waardes wat nuwe gelowiges moet sien, leer en verstaan wanneer hulle die Christelike reis begin.
Scripture
About this Plan
Hierdie leesplan is ʼn veertig dae reis in die lig van Jesus se woorde :"Ek is die weg, en die waarheid en die lewe" (Joh.14:6). Net na Jesus se hemelvaart was mense bekend as "mense van die weg"; hierdie het gedui op Jesus wat die weg was na God, en, tweedens, die leefwyse wat hulle gevolg het. Hierdie leesplan volg Jesus se lewe sodat ons soos Hy kan leef.
More