Die Weg, Die Waarheid en Die LeweSample
Dag 23 – Jesus se lewe in Nasaret
Nasaret was ʼn eenvoudige dorpie waarin Jesus die grootste gedeelte van sy aardse lewe deurgebring het. In die algemeen is na die dorp met minagting verwys. Dit was gewoonlik net as ʼn klein kolletjie op kaarte aangedui wat bitter min gehad het om aan ʼn reisiger te bied en totaal oorskadu word deur die nabygeleë Sepphoris, die luukse Griekse hoofstad van Herodes Antipas. Selfs Natanael, het voordat hy ʼn dissipel van Jesus geword het, gehoor dat Jesus van Nasaret af kom en gevra: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” (Johannes 1:46).
Die dorpie was bekend net vir een historiese feit, dat dit die tuisdorp van Jesus was. Dit was hier waar Jesus as seuntjie sy lewe deurgebring het, by sy moeder en vader gewoon het, en hier het hy voor die skeptiese inwoners van Nasaret te staan gekom wat nie in Hom kon glo nie. Die mense van Nasaret was eenvoudige mense wat ʼn harde bestaan gevoer het.
Byna almal in Nasaret, mans en vroue, was boere. 'n Vrou in die eerste-eeuse Nasaret het al die klein take verrig wat van enige vrou in 'n boeregemeenskap verwag word. Hulle het gewoonlik 'n lyn rooi of pers kleurstof in die middel van hul hare geverf en beskeie juweliersware gedra. Hulle klere was tuisgemaakte wol of linne. Beide geslagte het enkellengte leer stewels in die winter gedra, sandale in die somer. As jy 'n jong Joodse vrou soos Maria van Nasaret was, het jy by jou uitgebreide familie of by die familie van jou man gewoon.
Jou huis was van klip en moddersteen gemaak en hoewel dit dalk nie mooi aan die buitekant was nie, was dit koel, gemaklik en aangenaam binne. Sover ons weet, het Jesus se gesin 'n normale lewe in Nasaret geleef. Hulle was toegewyde, tradisionele Jode wat gereeld na Jerusalem gereis het vir die groot godsdienstige feeste.
Hulle seun Jesus is deur sy vader Josef, bou en skrynwerkvaardighede geleer en daar word van hulle verwag om die familiehandel voort te sit. Dit was swaar, deurlopende werk, en Jesus was beslis vertroud daarmee. Hy het waarskynlik selfs as seun in die lande gewerk, as ʼn mens oordeel aan Jesus se kennis van landbou soos in Lukas 8:5-8, die gelykenis van die saaier.
Mense kan vandag nog die “Nasaret Village” besoek geleë aan die buitewyke van ou Nasaret wat spog met sy antieke wynpers (die gebied se laaste oorblywende eerste-eeuse wynpers), terrasse, besproeiingstelsel en klipgroef, en presiese replikas van eerste-eeuse huise, 'n sinagoge en 'n wagtoring. Hier kan gesien word hoe mense geleef het in Jesus se tyd. Dit was weens die byna 30 jaar wat Jesus in Nasaret gewoon het, dat Hy Jesus van Nasaret genoem was. Mense was in die tydvak geïdentifiseer met die dorp waar hulle gebore is of gewoon het, dink byvoorbeeld as voorbeeld aan Maria Magdalena (Lukas 8:2; Maria van Magdala). Tot soveel as sewentien keer word Jesus Christus in die Nuwe Testament met Nasaret geïdentifiseer as “Jesus van Nasaret:” Selfs met sy dood, hoewel Hy Nasaret byna drie jaar tevore verlaat het, is Jesus geïdentifiseer met die klein dorpie.
Pilatus het ʼn opskrif geskrywe en dit op die kruis gesit: “JESUS VAN NASARET DIE KONING VAN DIE JODE” (Johannes 19:19). Jou verlede kleef soms aan jou soos Nasaret aan Jesus se naam gekleef het en selfs deel daarvan geword het. Daar is ʼn belangrike boodskap in Jesus se grootword in Nasaret en dit is: Dit maak nie saak waarvandaan jy kom nie, maar waarheen jy op pad is.
Jesus leer ons uit sy voorbeeld en lewe dat jy jou verlede kan hernu deur hoe jy die toekoms binnegaan.
Scripture
About this Plan
Hierdie leesplan is ʼn veertig dae reis in die lig van Jesus se woorde :"Ek is die weg, en die waarheid en die lewe" (Joh.14:6). Net na Jesus se hemelvaart was mense bekend as "mense van die weg"; hierdie het gedui op Jesus wat die weg was na God, en, tweedens, die leefwyse wat hulle gevolg het. Hierdie leesplan volg Jesus se lewe sodat ons soos Hy kan leef.
More