Die Weg, Die Waarheid en Die LeweSample
Dag 22 – Jesus se kinderjare in Nasaret
Dit is interessant dat die evangelies bitter min sê van die meer as 28 jaar wat Jesus in Nasaret grootgeword het. Slegs Lukas vertel van die voorval toe Jesus, op 12-jarige ouderdom na die tempel toe geneem was tydens Paasfees en hoe sy ouers van Hom geskei was en hulle Hom later in die tempel gevind het waar Hy tussen die leraars sit en na hulle luister en hulle uitvra. Mattheus, Markus en Johannes sê niks van Jesus se kinderjare nie.
Daarom is daar baie vrae oor Jesus se kinderjare want dit het die grootste gedeelte van sy aardse bestaan beslaan. Hoe het Hy grootgeword? Wat het Hy gedoen? Hoe het die mense in Nasaret Hom beleef? Het Hy wonderwerke gedoen as ʼn kind? Al hierdie vrae het by mense ontstaan oor Jesus se lewe. Dit het aanleiding gegee tot verhale oor Jesus wat in die vroeë kerk versprei is soos die Kinder-Evangelie van Thomas wat deur die vroeë kerk verwerp was soos:
• Hy maak ʼn gedroogde vis lewendig
• Hy gee lewe aan kleimossies wat Hy op die sabbat gemaak het
• Hy vervloek 'n seun wat daarna sterf
• Hy genees Jakobus van ʼn slangbyt
• Hy wek ʼn man en kind uit die dood op, ensovoorts.
Uiteindelik beeld die evangelie van Thomas, Jesus uit as 'n gewelddadige klein seuntjie wat nie in ooreenstemming is met die persoon Jesus in die vier evangelies nie. Verder het Johannes, een van die vertrouelinge van Jesus dit duidelik gemaak dat Jesus se eerste wonderwerk tydens ʼn bruilof te Kana in Galilea plaasgevind het toe Hy die water in wyn verander het (Lukas 2:11).
Dit is daarom nie vreemd dat die vroeë kerk die verhale as onwaar en fantasie verwerp het nie. Jesus het soos ʼn gewone kind grootgeword. Lukas som Jesus se kinderjare verder op na sy 12 jarige ouderdom: “En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem” (Lukas 2:52).
Die boodskap uit die lewe van Jesus en spesifiek die teks uit die evangelie van Lukas is dat ʼn kind nie net moet opgroei nie, maar toeneem in wysheid en in guns by God en by mense.
Hierdie is wyse raad en ʼn goeie doel vir elke persoon wat ʼn kind grootmaak!
Scripture
About this Plan
Hierdie leesplan is ʼn veertig dae reis in die lig van Jesus se woorde :"Ek is die weg, en die waarheid en die lewe" (Joh.14:6). Net na Jesus se hemelvaart was mense bekend as "mense van die weg"; hierdie het gedui op Jesus wat die weg was na God, en, tweedens, die leefwyse wat hulle gevolg het. Hierdie leesplan volg Jesus se lewe sodat ons soos Hy kan leef.
More