YouVersion Logo
Search Icon

Die Weg, Die Waarheid en Die LeweSample

Die Weg, Die Waarheid en Die Lewe

DAY 20 OF 40

Dag 20 – Jesus in Egipte

Jesus is die eerste keer agt dae na sy geboorte na die tempel toe gebring om besny te word. Drie en dertig dae daarna is Hy weer na die tempel gebring om toegewy te word aan God volgens die voorskrifte in Levitikus 12:3-5. Nadat Herodes die Grote besef het dat die wyse manne hom bedrieg het, het hy op ʼn oorlogspad gegaan en die babas in Betlehem laat doodmaak om ʼn toekomstige bedreiging te voorkom.

Daarom dat die engel in ʼn droom aan Josef gesê het: “'Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte toe en bly daar totdat ek jou sê om terug te kom, want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.' Josef het toe opgestaan en in die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte toe vertrek” (Matteus 2:13-14). Dit is toe dat Josef en Maria gevlug het met baba Jesus na Egipte. Op die oog af mag dit vreemd klink dat Josef en Maria besluit het om na Egipte te vlug.

Die werklikheid is dat daar reeds ʼn geskatte een miljoen Jode in Egipte gewoon het. Alhoewel die roete wat deur Josef, Maria en Jesus gevolg is nie in die Bybel opgeteken is nie, het Koptiese (Egiptiese) Christene ongeveer vyf-en-twintig plekke geïdentifiseer waar hulle glo dat Maria, Josef en Jesus in Egipte gebly het. Een van die moontlike plekke was Elephantine. Elephantine is 'n eiland in die Nylrivier, Bo-Egipte waar ʼn militêre buitepos gebou was.

Daar het die Jode ook toestemming gekry om 'n sinagoge te bou. Daar was beweer dat Josef en Maria, Jesus daarheen geneem het. Daar word ook beweer dat die gesin verder gereis het tot by die Qousqamberge en in ʼn grot gewoon het. Dit was duidelik dat Jesus se lewe van die begin af in die weegskaal was. Johannes maak dit duidelik aan die begin van sy evangelie dat Jesus na die wêreld toegekom het wat Hy geskep het en dit het Hom nie geken of aangeneem nie (Johannes 1:10-11). In Galilea het ʼn skrifgeleerde onderneem om Jesus te volg waar Hy ook al gaan.

Jesus het dit duidelik gemaak dat dit nie so maklik is om Hom te volg nie, omdat daar nie plek vir Hom in die wêreld is nie. Jesus het vir hom gesê: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie” (Matteus 8:20). Wanneer ons soms die haat van die wêreld teenoor Christus, Christelike beginsels en waardes ervaar, laat dit ons dalk ongemaklik voel maar dit was nog altyd so.

Jesus was konstant onder die aanslag van die bose en Christenskap sal altyd in die spervuur bly. Miskien ervaar jy tans weerstand of selfs ʼn aanslag teen jou geloof vanuit die wêreld waar jy leef.

Moenie toelaat dat dit jou ontstel nie, vertrou op Hom wat in elke opsig aangeval en versoek was soos jy. Hy het medelye met jou!

Day 19Day 21

About this Plan

Die Weg, Die Waarheid en Die Lewe

Hierdie leesplan is ʼn veertig dae reis in die lig van Jesus se woorde :"Ek is die weg, en die waarheid en die lewe" (Joh.14:6). Net na Jesus se hemelvaart was mense bekend as "mense van die weg"; hierdie het gedui op Jesus wat die weg was na God, en, tweedens, die leefwyse wat hulle gevolg het. Hierdie leesplan volg Jesus se lewe sodat ons soos Hy kan leef.

More