YouVersion Logo
Search Icon

Die Weg, Die Waarheid en Die LeweSample

Die Weg, Die Waarheid en Die Lewe

DAY 17 OF 40

Dag 17 – Jesus meer as ʼn oulike idee of filosofie

Jesus het nie mens geword omdat dit ʼn oulike idee of gerieflik was nie, maar omdat Hy gestuur was! Profete in die Ou en Nuwe Testamentiese tyd is gestuur sonder dat hulle vooraf bestaan het, maar met Jesus was dit anders.

Hy is gestuur van buite ruimte, tyd en die wêreld van menslike bestaan, juis om die mens te kom verlos van sonde. Die konteks is fundamenteel anders as die stuur van blote menslike boodskappers. Jesus vertel ʼn gelykenis in Markus 12:1-12 van ʼn wingerd wat geplant is met ʼn heining wat daar rondom gebou is.

Die eienaar het dit aan landbouers verhuur en het van tyd tot tyd diensknegte gestuur om van die landbouers vergoeding uit die vrug van die wingerd te ontvang; maar hulle het hulle geneem en geslaan, met leë hande weggestuur, gewond, skandelik behandel, teruggestuur en selfs doodgemaak. Laastens het hy sy geliefde seun gestuur maar die landbouers het hom ook doodgemaak en sy liggaam buitekant die wingerd gegooi.

Duidelik het Jesus gepraat van Homself wat deur God die Vader gestuur is na Israel, nadat hulle verskeie profete doodgemaak het wat God gestuur het. Jesus voorspel hiermee sy eie versoeningsdood maar wys ook sy selfbewustheid van sy voortbestaan.

Paulus onderstreep hierdie plan van God: “Wat die wet nooit kon regkry nie, het God reggekry. Hy het geweet dat die wet nie in staat is om ons te verlos nie. Daarvoor is die mag van die sonde in ons lewens heeltemal te groot. Daarom het God besluit om sy eie Seun na ons toe te stuur. Jesus het toe ’n gewone mens geword en tussen ons in hierdie sondaarsnes kom bly.

Toe Christus aan die kruis gesterf het, het God persoonlik met die sonde afgereken” (Romeine 8:3, DB). Jesus was God se plan sodat jou lewe nie sal eindig in ʼn sinnelose bestaan nie, maar dat jy gered kan word en ʼn bestemming van ware lewe kan ervaar (Johannes 3:16).

Day 16Day 18

About this Plan

Die Weg, Die Waarheid en Die Lewe

Hierdie leesplan is ʼn veertig dae reis in die lig van Jesus se woorde :"Ek is die weg, en die waarheid en die lewe" (Joh.14:6). Net na Jesus se hemelvaart was mense bekend as "mense van die weg"; hierdie het gedui op Jesus wat die weg was na God, en, tweedens, die leefwyse wat hulle gevolg het. Hierdie leesplan volg Jesus se lewe sodat ons soos Hy kan leef.

More