YouVersion Logo
Search Icon

Die Weg, Die Waarheid en Die LeweSample

Die Weg, Die Waarheid en Die Lewe

DAY 16 OF 40

Dag 16 – Jesus se weg na Bethlehem

Jesus Christus het bestaan voordat Hy gebore is, as ʼn mens. Jesus se eie woorde van die feit was so onwerklik en groot dat die eerste-eeuse Jode klippe opgetel het om Hom te stenig toe Hy gesê het: “Dít verseker Ek julle: Voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is” (Johannes 8: 58-59).

Anders as elke ander menslike geboorte, is die stal in Bethlehem nie 'n begin nie, maar 'n wording in die sin dat Jesus nie in sy moeder se baarmoeder begin bestaan het nie, maar slegs deur geboorte aarde toegekom het. Johannes beklemtoon ook in sy evangelie dat Jesus na die aarde neergedaal het: “Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens” (Johannes 3:13).

Markus, een van die evangeliste, beklemtoon ook die feit: “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense” (Markus 10:45). Die skrywer van die Hebreër brief maak die rede duidelik oor hoekom Jesus in die wêreld ingekom het: “Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld: 'Dit is nie diereoffer en graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het’” (Heb.10:5).

Paulus maak dit duidelik dat Jesus, wat goddelike heerlikheid besit het, arm geword het deur sy menswording sodat Christene deur sy armoede ryk kan word (2 Korintiërs 8:9). Hy het dit gedoen deur sy posisie in die hemel prys te gee sodat mense verlos kan word deur die dood van Jesus aan die kruis (Filippense 2:6-8).

Hierdie reis wat Jesus na Betlehem onderneem het, was meer as net ʼn Baba wat gebore word in ʼn krip. Dit maak van Jesus meer as ʼn mens, Hy is die Seun van die lewende God en God self.

Daarom dat Johannes sy evangelie met die bekende woorde begin: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie” (Joh.1:1-5).

Het jy al ooit Kersfees gevier en probeer om meer te sien as ʼn baba in ʼn krip? Die Jesus waarin jy jou geloof plaas het nie net gekom in die vorm van ʼn baba nie maar is God self!

Day 15Day 17

About this Plan

Die Weg, Die Waarheid en Die Lewe

Hierdie leesplan is ʼn veertig dae reis in die lig van Jesus se woorde :"Ek is die weg, en die waarheid en die lewe" (Joh.14:6). Net na Jesus se hemelvaart was mense bekend as "mense van die weg"; hierdie het gedui op Jesus wat die weg was na God, en, tweedens, die leefwyse wat hulle gevolg het. Hierdie leesplan volg Jesus se lewe sodat ons soos Hy kan leef.

More