Die Weg, Die Waarheid en Die LeweSample
Dag 15 – Jesus se voorbeeld in sy reis
Wanneer ons Jesus as die Weg volg neem ons kennis van die voorbeeld wat Hy nagelaat het in die groot momente van sy aardse bestaan wat Hy gevolg het van die hemel na Bethlehem, na Egipte, na Nasaret, na Kapernaüm, na Jerusalem tot in die hemel. In hierdie hoofmomente van Jesus se bestaan vind ons die roete van ware menswees tot ware lewe. Om Jesus se voorbeeld te volg is Bybels.
Die apostel Paulus het self sy eie lewe gebruik om as model gebruik te word op grond van Jesus se lewe. Hy het gesê: “Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg” (1 Korintiërs 11:1). Elke persoon word gebore en daardie geboorte het ʼn hemelse oorsprong met ’n goddelike plan en bestemming. So het Jesus se lewe dit ook geïllustreer. Hy het as ʼn seuntjie grootgeword en toegeneem in wysheid en guns by mense en by God. Hy is by sy doop bevestig as die geliefde seun van ʼn hemelse Vader en vervul met die Heilige Gees.
Hy het sonde in sy lewe weerstaan die 40 dae in die woestyn en so die vyand oorwin. Hy het mense gedien om verlossing, genesing en lewe moontlik te maak. Hy het ook sy dissipels genooi om sy voorbeeld te volg: “Ek het vir julle 'n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen” (Johannes 13:15). Hy het gely totdat Hy sy lewe geoffer het aan die kruis van Golgota.
Petrus stel hierdie voorbeeld van Jesus aan ons voor: “Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle 'n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg” (1Petrus 2:21). Hy het opgestaan uit die dood en daardeur die eerste geword van die wat opgestaan het uit die dood. Hierdie opstanding uit die dood het egter die mag van die dood oorkom sodat Jesus vir ewig kon lewe. Hierdie is dan ook elke gelowige se hoop wat in Jesus Christus glo: “Toe sê Jesus vir haar: 'Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook'” (Johannes 11:25).
Jesus het die weg ook na die hemel gedemonstreer in sy hemelvaart en dit word ʼn belofte vir elke persoon wat sy geloof in Jesus stel: “Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem. Dit sê ons vir julle op grond van wat die Here gesê het: Ons wat bly lewe tot met die wederkoms van die Here, sal die ontslapenes hoegenaamd nie voor wees nie.
Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees” (1Tessalonisense 4:14-17).
Om Jesus se voorbeeld te volg is nie altyd glansryk of maklik nie, maar dit is die hoop, plig en verantwoordelikheid van elke gelowige. Johannes, die dissipel wat Jesus van naby gevolg het, maak dit duidelik: “Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het" (1Johannes 2:6).
About this Plan
Hierdie leesplan is ʼn veertig dae reis in die lig van Jesus se woorde :"Ek is die weg, en die waarheid en die lewe" (Joh.14:6). Net na Jesus se hemelvaart was mense bekend as "mense van die weg"; hierdie het gedui op Jesus wat die weg was na God, en, tweedens, die leefwyse wat hulle gevolg het. Hierdie leesplan volg Jesus se lewe sodat ons soos Hy kan leef.
More