Die Weg, Die Waarheid en Die LeweSample
Dag 14 – Hoe gee Jesus aan ons ware lewe?
Die definisie van lewe is lank reeds die tema van debatte onder wetenskaplikes, filosowe, regsgeleerdes en teoloë. Daarom bestaan daar meer as ‘n 100 definisies van lewe. Dit is deels omdat die lewe 'n proses is en nie ʼn substansie nie. Bioloë sien lewe as die rangskikking van molekules met eienskappe van selfonderhoud en selfreplikasie. Wetlike definisies van lewe is ook beskryf weens debatte oor aborsie, genadedood en doodstraf. Die wetlike definisie van lewe is bloot die bestaan van ʼn lewende wese na geboorte. Filosowe definieer lewe as bestaan, sosiale bande, bewussyn en geluk.
Die huidige verbruikers-kultuur definieer die lewe as die groei en bestaan van ʼn mens om die beste van alles te kry en dan uiteindelik te sterf. Maar waaroor gaan die lewe regtig, indien dit iets beteken? Die twee moontlikhede is dat die lewe óf 'n betekenislose ongeluk is wat voortspruit uit die wette van fisika wat in 'n betekenislose heelal bestaan, óf dit is 'n inisiatief deur God tot ʼn bepaalde doel.
Christene sien menslike lewe as ʼn geboorte wat sy oorsprong en beginpunt by God kry, op die aarde in ʼn bestaan vergestalt word as ʼn skepsel, geskape as die beeld van God en wat voortgesit word vir ʼn ewigheid. Daarom beskou Christene alle lewe as kosbaar en die menslike lewe as heilig. Vanuit ʼn Christelike perspektief het sonde die lewe gebroke en swaar gemaak en daarom het Jesus die offer geword sodat die mens ware lewe kan ervaar.
Dit is slegs in Jesus wat ware lewe, betekenis, geluk en ʼn ewigheid verkry kan word (Johannes 10:10). Wanneer Jesus homself as die weg, die waarheid en die lewe voorhou wys Hy die roete na ʼn ware lewe wat slegs deur Hom as die weg moontlik is.
Belangrike vrae in die oordenking vir jou is:
- Wat is die lewe vir jou?
- Ervaar jy tans lewe?
- Het jy nodig om na Jesus toe te draai om ware lewe te ervaar?
Scripture
About this Plan
Hierdie leesplan is ʼn veertig dae reis in die lig van Jesus se woorde :"Ek is die weg, en die waarheid en die lewe" (Joh.14:6). Net na Jesus se hemelvaart was mense bekend as "mense van die weg"; hierdie het gedui op Jesus wat die weg was na God, en, tweedens, die leefwyse wat hulle gevolg het. Hierdie leesplan volg Jesus se lewe sodat ons soos Hy kan leef.
More