Die Weg, Die Waarheid en Die LeweSample
Dag 12 – Hy is die waarheid
Jesus is die waarheid! Weereens het Jesus ʼn bepaalde lidwoord in die Griekse taal (dié) gebruik om Homself as die enigste waarheid te beklemtoon. Waarheid is veel meer as net stellings wat in pas met die werklikheid is of ʼn morele gids, dit lê in ʼn persoon. Jesus het verklaar dat Hy waarheid is, en het nie gesê Hy sal die waarheid wys of die waarheid leer of die waarheid modelleer nie. Hy het die waarheid verpersoonlik. Hy is dus die bron van alle waarheid, die beliggaming van waarheid en daarom die verwysingspunt vir die evaluering van alle waarheidsaansprake.
In ʼn wêreld waar waarheid bevraagteken word en beskou word as relatief en subjektief, is Jesus se stelling oor Homself dat Hy objektiewe waarheid is byna ondenkbaar. Kan een persoon regtig die objektiewe verteenwoordiging van waarheid wees? Jesus stel die feit onomwonde. Waarheid is in pas met die werklikheid van hoe dinge is en in teenstelling met die uitgangspunt van ʼn postmoderne wêreld dat dit relatief of subjektief is. Dit is om akkuraat te sien soos wat dit werklik is en nie soos wat ons wens of hoop nie. Om te glo wat nie waar is nie, is om uiteindelik blind te wees vir die werklikheid.
Die Woord van God is waar, en die Woord het vlees geword en onder ons gewoon. (Johannes 1:14). Die waarheid is dus die lewe van Jesus wat in ons geopenbaar moet word. (2 Korintiërs 4:10). Wanneer ons sy lewe met ons eie lewens vergelyk en sien hoe geweldig verskillend die twee is, skakel dit vir ons 'n lig aan.
Die lig wys wie ons regtig is en ook die weg waarop ons moet wandel om na die beeld van Christus verander te word (Romeine 8:29). Die eerste stap op die weg van waarheid word geneem wanneer Jesus, sy lig in ons lewens laat skyn en ons erken dat ons sondaars is wat vergifnis, versoening en regverdiging nodig het. Dit veroorsaak dat ons kinders van God word (Johannes 1:12).
Die volgende stap is dat waarheid dit vir ons openbaar dat ons steeds blootgestel is aan die moontlikheid om verlok en verlei te word om sonde te doen. Daarom moet elke mens erken dat hulle self magteloos is om sonde te oorwin. Wanneer ons onsself verootmoedig om hierdie waarheid oor onsself te erken, dan kan die Heilige Gees ons vul, ons verlig, en die krag gee wat ons kortkom sodat ons alles kan onderhou wat God ons beveel.
Met ander woorde, ons kan oorwinning kry oor die begeerlikhede van die vlees wat tot sonde lei. Uiteindelik bepaal jou houding teenoor die waarheid die uitkoms van jou lewe. As jy waarheid weerstaan en verwerp lei dit tot verdere duisternis en verlorenheid, maar as ons die waarheid liefhet dan omhels ons verlossing en ontvang ons die beloning: die kroon van die lewe! (Jakobus 1:12; Openbaring 2:10).
Scripture
About this Plan
Hierdie leesplan is ʼn veertig dae reis in die lig van Jesus se woorde :"Ek is die weg, en die waarheid en die lewe" (Joh.14:6). Net na Jesus se hemelvaart was mense bekend as "mense van die weg"; hierdie het gedui op Jesus wat die weg was na God, en, tweedens, die leefwyse wat hulle gevolg het. Hierdie leesplan volg Jesus se lewe sodat ons soos Hy kan leef.
More