YouVersion Logo
Search Icon

Die Weg, Die Waarheid en Die LeweSample

Die Weg, Die Waarheid en Die Lewe

DAY 11 OF 40

Dag 11 – Net een Naam

Die eksklusiewe aard van die enigste weg na verlossing word uitgedruk in Jesus se eie woorde "Ek is die weg." Die woorde beteken dat slegs in die Naam van Jesus is daar verlossing. Dit is immers die rede vir sy Naam en wat sy Naam uiteindelik beteken (Matteus1:21).

Dit is slegs deur die Naam dat die mens verlos kan word van ʼn ewige dood soos wat dit ook in die res van die Nuwe Testament bevestig word. Petrus bevestig die waarheid aan die leiers in Jerusalem toe hulle hom tot verantwoordelikheid roep en sê oor Jesus: "Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie" (Handelinge 4:12). Paulus stel dit duidelik dat “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (Romeine10:13).

Maar in sy Naam is daar meer as net verlossing opgesluit:

• In sy Naam is lewe (Johannes 20:31).

• In sy Naam is vergewing van sondes (Handelinge 2:38).

• In sy Naam is genesing (Handelinge 3:6).

• In Sy Naam is ware eenheid (1 Korintiërs 1:10).

• In sy Naam is regverdiging van sondes (1 Korintiërs 6:11).

• In sy Naam is oppergesag (Filippense 2:10).

• In sy Naam verkry ons gesag (Kolossense 3:17).

Daar is iets omtrent daardie Naam! Dit is die soetste naam op die tonge van diegene wat Hom ken. Waarlik, soos die liedjieskrywer sê, “Jesus, groot bo almal, sterke Verlosser, magtige Heer en Heiland, Immanuel — God is met ons, Reddende Here, Lewende Woord!” Dit simboliseer vir die wat Hom weier oordeel, maar vir die wat die Naam aanvaar ware lewe, in die wêreld en ook hierna. Die realiteit is egter dat daar mense is wat die Naam van Jesus verwerp het, tans verwerp en in die toekoms nog gaan verwerp.

Die waarheid is dat eendag sal almal verplig word om te buig voor daardie einste naam (Filippense 2:10-11). Om dit dan te doen, sal te laat wees maar om dit nou te doen, maak die deur vir ewig oop.

Het jy al die Naam van Jesus in jou lewe aangeroep? Paulus, as een van die mense wat van die pad wat na oordeel en die dood lei gered is en dus uit ervaring praat sê: “Want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (Romeine 10:13).

Day 10Day 12

About this Plan

Die Weg, Die Waarheid en Die Lewe

Hierdie leesplan is ʼn veertig dae reis in die lig van Jesus se woorde :"Ek is die weg, en die waarheid en die lewe" (Joh.14:6). Net na Jesus se hemelvaart was mense bekend as "mense van die weg"; hierdie het gedui op Jesus wat die weg was na God, en, tweedens, die leefwyse wat hulle gevolg het. Hierdie leesplan volg Jesus se lewe sodat ons soos Hy kan leef.

More