kykNET Lydenstyd Gids 2023Sample
Week 1: Nederigheid
Dag 5: ‘n Padkaart vir die lewensreis
"Gelukkig is dié wat sag van hart is, want die nuwe aarde sal hulle erfporsie wees" Matteus 5:5 (NLV).
Jesus leer ons in hierdie week se gelykenis waaroor die lewe eintlik gaan. En Hy sê vir ons wat die lewe regtig is en hoe hierdie lewe geleef kan word. Hy self het hierdie lewe geleef en is die Weg. Hy het self gesê: “Ek is sagmoedig en Ek is nederig” (Matteus 11:29).
Voordat ons nie erken dat Hy (Die Weg) wonderlik is nie, sal ons nie hierdie pad wil kies nie. Ons word uitgenooi om regtig lank en diep na Jesus te kyk en agter te kom wie Hy eintlik is en hoe Hy geleef het, om oortuig te word en aangetrokke te voel tot hierdie soort lewe. Dus, wat is daar van Jesus se lewe wat vir jou regtig uitstaan en aantrek?
Hier is drie aspekte van Hom waaroor ons kan nadink.
Eerstens: Hy vind sy waarde in die feit dat Hy ‘n geliefde Seun van die Vader is. Hy hoor die stem wat vir Hom sê dat Hy die geliefde Seun van die Vader is (Matteus 3:11). Hy aanvaar dit. Hy glo dit. Hy probeer dit nie kry in wat ander mense van Hom dink nie. Daarom is hy vry van wat ander van Hom dink. As Hy opposisie kry en mense sê Hom sleg, raak Hy nie depressief nie. Hy dink nie daaraan om tou op te gooi met sy missie nie. As mense Hom prys en sê Hy is die Messias, raak Hy nie opgeblase en dink die wêreld behoort aan Hom en dat Hy enigiets kan doen nie. Nee, Hy is ongestoord deur prys of deur vloek.
Tweedens: Hy was ‘n vriend van tollenaars en sondaars. Hy was nie juis daarop ingestel om met belangrike of goeie mense te assosieer nie. Hy het met almal geassosieer wat sy pad gekruis het. Maar, Hy was veral daartoe aangetrokke om verhoudings te bou met hawelose mense, siek mense, mense teen wie gediskrimineer word. Hy het nie gedink of omgegee dat sy assosiasie en sy verbintenis tot hierdie mense sy reputasie kon skade doen nie. Hy het Hom waarlik by die nederige gevoeg.
Derdens: Hy was bereid om die take van ‘n slaaf te verrig. Hy was voete. Hy sê daardeur dat ‘n man waarde toevoeg met wat hy doen. Daardeur is hy vry om enigiets te doen.
Doen dit:
Jy word uitgenooi om te dink oor wie Jesus was en te let op sy nederigheid. Bepeins dit ‘n paar oomblikke. Deel jou bewondering met Hom. Jy kan dan ‘n lofpsalm skryf.
Gebed om te herhaal:
O God, wees my, sondaar, genadig!
Scripture
About this Plan
Jy word genooi om die saligsprekinge van Jesus in jou lewe in te werk. Die Lydenstyd is dus ‘n tydperk om jou te vereenselwig met Jesus se lewe in lyding. Die saligsprekinge nooi ons om, saam met Jesus, op ‘n nuwe manier te lewe in ‘n wêreld van angs, vrees, onsekerheid en lyding. Dit is die pad wat min kies, maar Jesus het. Ons volg Hom deur lyding, na saligheid.
More