kykNET Lydenstyd Gids 2023Sample
Week 1: Nederigheid
Dag 4: Die pad na … die dood
"Gelukkig is dié wat sag van hart is, want die nuwe aarde sal hulle erfporsie wees" Matteus 5:5 (NLV).
Salomo sê daar is ‘n pad wat vir ons reg lyk, maar dit lei na die dood. Ons sal net so ‘n pad kies as ons dink dit lei na die lewe. Niemand sal die verkeerde pad vat as hulle besef dit lei na pyn en ‘n lewe wat uitmekaar val nie.
Paulus beskryf die pad van hoogmoed as die pad van die vlees: “’n Mens kan duidelik sien watter mense gekies het om deur hulle sondige begeertes oorheers te word. Hulle doen mee aan die verskriklikste seksuele sondes. Hulle lewe is vol onreinheid en goddeloosheid. Hulle aanbid ’n spul dooie afgode en hou hulle besig met waarsêery. Hulle lewe loop oor van haat en twis. Hulle gun niemand iets nie. Hulle is aggressief, selfsugtig, altyd besig om te stry en verdeeld onder mekaar. Hulle lewe is vol jaloesie. Die een dronkpartytjie na die ander is hulle kos. Hulle gee hulle oor aan vieslike uitspattighede en nog baie ander slegte dinge. Ek waarsku julle, soos ek julle al tevore gewaarsku het, om nie soos hierdie mense te lewe nie. Onthou, mense wat so lewe, sal nooit ’n plek kry in God se nuwe wêreld nie. Aan die ander kant kan ’n mens duidelik sien watter mense se lewe deur die Heilige Gees beheer word” (Gal 5:19-21 DB)
Lees hierdie Skrifgedeelte ‘n paar keer stadig deur. Let op of jy iets van jouself kan herken. Dit kan baie moeilik wees om dit te erken, maar dit kan die eerste tree word wat tot nederigheid in jou lewe lei. "Ek het die Here nodig. Ek kan nie self nie. Ek weet nie beter nie. Ek kan net as Hy my help."
‘n Professor het eendag gesê dat die "eie ek" (hoogmoed), soos ‘n swart spinnekop wat op ‘n donker nag op ‘n donker grys klip sit. Jy kan die spinnekop nie sien nie. Jy kan dit net sien as die lig van die Here daarop skyn. Die doel is nie om jou te laat skuldig te voel of bang dat jy gestraf gaan word nie. Die doel is eerder om jou te laat besef op watter pad jy is. Jy kan ‘n keuse maak. Daar is ‘n ander manier om te lewe.
Doen dit:
Deel jou gewaarwording met Hom en lewe vandag met die herhalende gebed: “Jesus Christus wees my genadig.”
Gebed om te herhaal:
O God, wees my, sondaar, genadig!
Scripture
About this Plan
Jy word genooi om die saligsprekinge van Jesus in jou lewe in te werk. Die Lydenstyd is dus ‘n tydperk om jou te vereenselwig met Jesus se lewe in lyding. Die saligsprekinge nooi ons om, saam met Jesus, op ‘n nuwe manier te lewe in ‘n wêreld van angs, vrees, onsekerheid en lyding. Dit is die pad wat min kies, maar Jesus het. Ons volg Hom deur lyding, na saligheid.
More