YouVersion Logo
Search Icon

kykNET Lydenstyd Gids 2023Sample

kykNET Lydenstyd Gids 2023

DAY 10 OF 39

Week 1: Nederigheid

Dag 6: Wandel op die pad

"Gelukkig is dié wat sag van hart is, want die nuwe aarde sal hulle erfporsie wees" Matteus 5:5 (NLV)

Jesus sê nie net dat ons nederig moet wees nie, maar ook dat ons onsself moet verneder. Dit beteken dat daar maniere in ons lewe is hoe ons nederigheid kan beoefen en bevorder. In hierdie week se gelykenis is daar drie dinge wat deur die tollenaar voorgehou word.

Eerstens: Hy erken sy sondigheid en afhanklikheid van God. Hy erken dat hy die verkeerde pad gekies het en dat hy op homself vertrou het. As gevolg van hierdie belydenis ontvang hy genade. God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. (1Petrus 5:5). Deur sy genade ontvang ek vergifnis. Ek word daardeur in staat gestel om dan ander te kan vergewe. Ons probeer soms om goed te wees sonder om eers die goedheid en krag van God af te ontvang.

Tweedens: Hy het homself nie met ander mense vergelyk nie. As ons onsself met ander vergelyk, gaan ons óf opgeblase óf neerslagtig wees, want ons sal altyd mense vind wat beter as ons is (dit maak ons neerslagtig) of slegter as ons is (dit laat ons goed voel). Om ons nie te vergelyk nie, maak ons vry van hierdie kringloop en help ons om nie ons waarde te probeer verdien nie, maar dit as ‘n geskenk van God te ontvang.

Derderns: Hy buig sy hoof en slaan op sy bors met sy oë na onder gerig. Hy kyk nie met trotse oë af op ander nie. Hy minag niemand nie. Hy sien homself as een met ander mense.

Ons het soveel in gemeen. Ons het almal pyn. Ons het almal probeer en misluk. Ons almal het ook iets goeds in ons – die beeld van God – en dit is iets wat gevier moet word. Ek kan ook die uniekheid in ander sien. Anders as ek, in sekere opsigte ook beter as ek, en ek dank die Here daarvoor.

Doen dit:

Is daar ander maniere waarop jy vandag meer nederig kan wees? Besluit op ‘n manier en doen aan die einde van die dag ‘n oordenkingsgebed daaroor.

Gebed om te herhaal:

O God, wees my, sondaar, genadig!

Scripture

Day 9Day 11

About this Plan

kykNET Lydenstyd Gids 2023

Jy word genooi om die saligsprekinge van Jesus in jou lewe in te werk. Die Lydenstyd is dus ‘n tydperk om jou te vereenselwig met Jesus se lewe in lyding. Die saligsprekinge nooi ons om, saam met Jesus, op ‘n nuwe manier te lewe in ‘n wêreld van angs, vrees, onsekerheid en lyding. Dit is die pad wat min kies, maar Jesus het. Ons volg Hom deur lyding, na saligheid.

More