kykNET Lydenstyd Gids 2023Sample
Week 1: Nederigheid
Dag 3: ‘n Pad wat reg lyk
"Gelukkig is dié wat sag van hart is, want die nuwe aarde sal hulle erfporsie wees" Matteus 5:5 (NLV).
Op die oog af lyk dit asof die Fariseër ‘n baie goeie, nederig mens is en die regte ding doen (Lukas 18). Hy bid, buig voor God, en is dankbaar. Is dit regtig verkeerd om dankbaar te wees oor die feit dat ek nie steel nie? Dat ek nie ander skade berokken nie? Dat ek nie geweld gebruik om my eie wil te laat geskied nie? Is dit nie beter nie? Hy skryf al hierdie dinge aan God toe.
Dit bring ons by ‘n baie subtiele en komplekse aspek van nederigheid, wat ons ook in Jesus se leringe sien. Hy sê byvoorbeeld dat ons nie die voorste sitplekke moet inneem nie, want dan gaan ons agtertoe geskuif word. Ons gaan verneder word as daar belangriker mense na die byeenkoms kom. Neem eerder die agterste sitplekke, sodat jy vorentoe geroep kan word - dán sal jy verhoog word.
Maar dit is nie wat met hierdie man gebeur nie. Sy gebed draai eintlik nog steeds net om homself. Ons kan berou toon, maar die berou is eintlik ‘n vorm van selfbejammering, want dit gaan net oor onsself. "Arme ek, kyk wat gebeur nou met my!"
Diepe berou gaan eerder oor wat ons gedoen het en die toestand van ons harte: gebrekkig en afhanklik. Ons word genooi om na ‘n plek te gaan waar ons nie die realiteit kan ontken nie. Jesus sê self dat Hy sagmoedig en nederig is (Matt. 11:28). Dit maak Hom nie hoogmoedig nie. Dit is nie ‘n ontkenning van die realiteit en goedheid nie, maar dit is ‘n erkenning van afhanklikheid.
Daar word vertel dat Golda Meir, 'n vorige Premier van Israel, met twee kaartjies in haar sak geloop. Een wat sê: "Jy is stof, jy is van die aarde af, jy is eintlik niks nie." Die ander een sê: "Aan jou behoort die aarde en die wêreld." Dikwels moet ons na een van hierdie twee pole gaan: ‘n Erkenning van die waarheid, maar terselfdertyd ‘n totale afhanklikheid van God.
Doen dit:
Dink aan die pole van nederigheid en hoogmoed in jou lewe. Vanuit watter plek funksioneer jy tans? Praat met God daaroor.
Gebed om te herhaal:
O God, wees my, sondaar, genadig!
Scripture
About this Plan
Jy word genooi om die saligsprekinge van Jesus in jou lewe in te werk. Die Lydenstyd is dus ‘n tydperk om jou te vereenselwig met Jesus se lewe in lyding. Die saligsprekinge nooi ons om, saam met Jesus, op ‘n nuwe manier te lewe in ‘n wêreld van angs, vrees, onsekerheid en lyding. Dit is die pad wat min kies, maar Jesus het. Ons volg Hom deur lyding, na saligheid.
More