kykNET Lydenstyd Gids 2023Sample
Week 1: Nederigheid
Dag 2: Twee Paaie
"Gelukkig is dié wat sag van hart is, want die nuwe aarde sal hulle erfporsie wees." Matteus 5:5 (NLV)
Ons is hierdie week op ‘n reis met ‘n gelykenis van Jesus wat ons die keuse gee van een van twee paaie wat na die lewe lei (Lukas 18). Die tema van twee paaie kom dikwels in Jesus se leringe voor. Hy praat op verskillende maniere oor die twee paaie. Hy noem dit die breë en die smal pad. Dit is die pad van die vlees of die pad van die gees. Dit is die pad van Babilon of dit is die pad van Jerusalem. Dit is die pad van die selfverloëning, of die pad van die selfontdekking. Dit is die pad van hoogmoed of dit is die pad van nederigheid.
Die pad van hoogmoed is ‘n manier van lewe wat om jouself draai. Jesus sê in hierdie gelykenis daar is mense wat op hulle self vertrou en ander mense verag. Dit is ‘n fundamentele ingesteldheid tot die lewe waarin ek staatmaak op my eie insig en my eie krag. Ek vergelyk myself met ander en vind dat ek beter is as hulle.
Nederigheid is die teenoorgestelde pad. Dit is ‘n lewe wat om God en ander draai. Dit is ‘n lewe waar ek nie op myself vertrou nie maar op God: dat Hy beter weet, dat sy wil beter is as myne en dat ek nie in hierdie lewe kan maak sonder sy krag nie. Ek vergelyk nie myself met ander nie, want daar is altyd ander wat beter of slegter as ek is.
Ons is almal op die lewensreis, ons is almal op een van die twee paaie. Jesus vertel die storie sodat almal bewus kan word van die pad wat hulle gekies het. Dalk kan jy nie onthou dat jy dit gekies het nie. Jy bevind jouself nou net op hierdie pad.
Doen dit:
Jy word uitgenooi om nou die Here te vra om vir jou duidelik te maak op watter pad jy is. Jy kan dalk jouself op altwee hierdie paaie bevind. Soms baie selfversekerd, en soms met 'n lae selfbeeld. Vertel Hom presies wat jy dink en hoe jy hieroor voel.
Gebed om te herhaal:
O God, wees my, sondaar, genadig!
Scripture
About this Plan
Jy word genooi om die saligsprekinge van Jesus in jou lewe in te werk. Die Lydenstyd is dus ‘n tydperk om jou te vereenselwig met Jesus se lewe in lyding. Die saligsprekinge nooi ons om, saam met Jesus, op ‘n nuwe manier te lewe in ‘n wêreld van angs, vrees, onsekerheid en lyding. Dit is die pad wat min kies, maar Jesus het. Ons volg Hom deur lyding, na saligheid.
More