YouVersion Logo
Search Icon

kykNET Lydenstyd Gids 2023Sample

kykNET Lydenstyd Gids 2023

DAY 5 OF 39

Week 1: Nederigheid

Dag 1:

Hy wat terneergedruk is, vrees om te val nie
Hy wat op 'n laagtepunt is, geen trots vrees;
Hy wat altyd nederig is
sal God as sy gids hê.
Ek is tevrede met wat ek het,
Of dit min of baie is:
En Heer, ek smag steeds na tevredenheid,
Omdat U sulkes red.
Volheid aan so 'n las is
Wat op 'n pelgrimsreis gaan:
Hier net 'n rukkie, hierna saligheid,
Is die beste van geslag tot geslag.
"The Shepherd Boy Sings In The Valley Of Humiliation"deur John Bunyan
(Vrye vertaling)

"Daar was party mense wat gedink het alles wat hulle doen, is genoeg om hulle regverdig te maak. Hulle het ook gedink net húlle is belangrik. Maar Jesus het toe hierdie gelykenis vir daardie mense vertel. Hy het gesê: 'Twee mans het na die tempel gegaan om te bid. Die een man was 'n Fariseër en die ander man was 'n tollenaar. Die Fariseër het gaan staan en hy het só gebid: ‘My God, baie dankie dat ek nie soos die ander mense is nie. Hulle steel, hulle lewe nie soos U wil hê nie, en hulle pleeg egbreuk. En dankie dat ek nie soos hierdie tollenaar is nie. Ek vas twee maal in 'n week, en ek gee tiendes van alles wat ek kry.’ 'Maar die tollenaar het ver weg gaan staan. Hy wou nie opkyk na die hemel nie, want hy het gedink hy is nie goed genoeg nie. Hy het homself op die bors geslaan en gesê: ‘My God, ek is 'n sondaar. U moet asseblief jammer wees vir my en U moet my help.’ Daarna het Jesus gesê: 'Ek sê vir julle, toe hierdie tollenaar weggaan van die tempel, was God tevrede met hom maar nie met die Fariseër nie. Want God sal elkeen verneder wat dink hy is belangrik, en God sal elkeen wat nederig is, belangrik maak.'” Lukas 18:9-14 ABA

In hierdie gelykenis stel Jesus ‘n probleem. Hy toon twee paaie wat gevolg kan word om hierdie probleem op te los en laat almal met ‘n keuse.

Die probleem is om geregverdig te word. Dit beteken om goedgekeur, aanvaar, geag te word. Om ‘n goeie selfbeeld te hê, om met respek te leef, of om erkenning te kry. Dit is iets wat almal wil hê.

Die eerste pad is dié van ‘n Fariseër. Hy het ‘n van-buite-na-binne benadering. Hy probeer om geregverdig te word deur goeie goed te doen. Sy motief is om goedkeuring by God en mense te kry. Hy vergelyk almal met homself en sy gebede draai nie om die Here nie, maar eintlik om homself. Dit is die pad van hoogmoed.

Die ander pad is dié van die sondaar. Dit is ‘n van-binne-na-buite benadering. Daar is niks wat hy kan doen om geregverdig te word nie. Hy vra daarvoor en probeer dit nie self skep nie. Sy gebed is “wees my genadig” — dit draai nie om hom nie maar om God. Hy is oortuig dat net Jesus hom regverdiging gee. Dit is die pad van nederigheid.

Gedurende die week sal ons hierdie twee paaie verken asook maniere van wees en lewe:

"Gelukkig is dié wat sag van hart is, want die nuwe aarde sal hulle erfporsie wees." Matteus 5:5 (NLV)

Geloofspraktyk vir die week:

Skryf ‘n lofpsalm aan Jesus (soos Maria se loflied in Lukas 1).

Scripture

Day 4Day 6

About this Plan

kykNET Lydenstyd Gids 2023

Jy word genooi om die saligsprekinge van Jesus in jou lewe in te werk. Die Lydenstyd is dus ‘n tydperk om jou te vereenselwig met Jesus se lewe in lyding. Die saligsprekinge nooi ons om, saam met Jesus, op ‘n nuwe manier te lewe in ‘n wêreld van angs, vrees, onsekerheid en lyding. Dit is die pad wat min kies, maar Jesus het. Ons volg Hom deur lyding, na saligheid.

More