YouVersion Logo
Search Icon

kykNET Lydenstyd Gids 2023Sample

kykNET Lydenstyd Gids 2023

DAY 4 OF 39

Voorbereidingsweek: Bid

Bo alles, vertrou in die tydsame werk van God.
Ons is van nature in alles ongeduldig om sonder vertraging
die einde van die dag te bereik.
Ons sou graag die tussen-in stadiums wou oorslaan
Ons is ongeduldig om op pad te wees na iets onbekend, iets nuut.

En tog is dit die wet van alle vooruitgang
dat ons deur sekere stadiums van onstabiliteit moet gaan —
en dat dit 'n baie lang tyd kan neem.

En so dink ek is dit met jou;
jou idees word geleidelik meer volwasse — laat hulle groei,
laat hulle hulself vorm sonder onnodige haas.
Moenie toelaat dat hulle hulself op jou afdwing nie,
asof jy vandag kan wees wat tyd ...
(dit wil sê, genade en omstandighede wat op eie tyd gebeur)
... môre van jou kan maak.

Net God kan sê wat hierdie nuwe gees
wat geleidelik in jou vorm aanneem, sal wees.
Gee aan ons Heer die voordeel om te glo
dat sy hand jou lei,
en aanvaar die angs om jouself
in spanning en onvolledigheid te ervaar.
Deur Pierre Teilhard de Chardin
(Vrye vertaling)

"Julle moenie ophou bid nie. Julle moet altyd dankbaar wees, dit maak nie saak wat gebeur nie. Dit is wat God wil hê julle moet doen omdat julle in Christus Jesus glo." 1 Thesalonissense 5:17-18 ABA

Daar is soveel vorme van gebed. Deur gebed behoort jy ervaringe van krag en insig te hê, jy behoort moed te skep en leiding te ontvang. Tydens die Lydenstyd gaan ons drie vorme van gebed beoefen:

Elke dag eindig met 'n oordenkingsgebed. Hierdie manier van bid nooi jou om aandag te skenk aan God se teenwoordigheid in jou dag. Dink terug aan die gebeure van die dag. Vra die Gees om jou hierin te lei. Kies een of twee prominente gebeure wat positief of negatief was. Bedink hierdie gebeure in die teenwoordigheid van God en praat met Hom daaroor.

Weekliks gaan ons ‘n herhalende gebed ontvang wat ons deur die loop van die dag bid – soos jy onthou. ‘n Herhalende gebed is ’n kort gebed wat jy voortdurend kan bid om jou in Hom te anker en jou gedagtes stil te maak.

Op Saterdae word jy genooi om ‘n hersieningsgebed te bid. Hierdie gebed is presies waarheen die naam jou nooi: om te “her” “sien” wat jy gedurende die week beleef het. Doen ‘n oorsig oor jou week en staan stil by die oomblikke waar jy God se werking ervaar het. Dit kan iets wees wat jou hoop gegee het, óf iets wat jou tydens die week bygebly het, óf iets wat ‘n gevoel van weerstand in jou gelaat het. Lees weer die teks van die week. Kyk deur jou notas. Gaan terug na die ervaring van die week wat jou bybly, of vir jou uitstaan. Lees weer deur die oordenking en oefening. Praat met God oor jou ervaring.

Doen dit:

Beoefen die drie vorme van gebed deur die verloop van jou dag. Begin deur die oggend ‘n hersieningsgebed te doen oor jou voorbereidingsweek. Deur die loop van die dag kan jy die herhalende gebed gebruik om jou gedagtes op God te rig. Doen die oordenkingsgebed in die aand en skenk aandag aan waar jy dalk God se teenwoordigheid beleef het.

Gebed om te herhaal:

Here, gee my die genade om u lewe te kies.

Day 3Day 5

About this Plan

kykNET Lydenstyd Gids 2023

Jy word genooi om die saligsprekinge van Jesus in jou lewe in te werk. Die Lydenstyd is dus ‘n tydperk om jou te vereenselwig met Jesus se lewe in lyding. Die saligsprekinge nooi ons om, saam met Jesus, op ‘n nuwe manier te lewe in ‘n wêreld van angs, vrees, onsekerheid en lyding. Dit is die pad wat min kies, maar Jesus het. Ons volg Hom deur lyding, na saligheid.

More