YouVersion Logo
Search Icon

kykNET Lydenstyd Gids 2023Sample

kykNET Lydenstyd Gids 2023

DAY 27 OF 39

Week 5: Reinheid

Dag 2: Vind jou hart

Gelukkig is almal wie se lewe van binne af nuut geword het. God sal sorg dat hulle Hom met hul eie oë sien” Matteus 5:8 (DB).

Jesus nooi ons om op ‘n innerlike reis te gaan. Hy nooi ons om ons harte te ondersoek. Dit beteken dat ons moet weet wat in ons harte is en na ons harte te luister. Hoe vind ons die kern, die middelpunt, die plek waar alles bymekaar kom in ons lewe?

In hierdie week word jy genooi om ‘n pad te loop wat die vroeë kerk geneem het. Daar is seker baie maniere, maar op grond van ons begrip van die Skrif en Christus se onderrig, is begeertes gesien as ’n sleutel tot die deur van jou hart.

Ek het nooit geleer wat om met my begeertes te doen nie. Moet ek daaraan aandag gee of moet ek my begeertes ignoreer? Ek is gewaarsku dat begeertes gevaarlik is, en dat ek versigtig moet wees. Wat wel belangrik is, is die "wil van die Here" — wat gewoonlik die teenoorgestelde is as van wat ek wil hê. As ek wil doen wat ek regtig wil, is ek selfsugtig. Ek moet teen my begeertes ingaan. Daar is groot klem gelê op wilskrag. En as ek dit nie gedoen het nie, het ek baie sleg gevoel en daar is op my gevoelens gespeel om sleg te voel sodat ek verplig was om te doen wat reg is.

Hoe dink jy sal dit gaan in ‘n huwelik waar ‘n paartjie bymekaar kom, vir mekaar sê hoe lief hulle mekaar het en een van die partye dan verwag dat die ander party alle eie begeertes sal prysgee? Van nou af is net die een party se begeertes geldig. Is dit ‘n verhouding? ‘n Liefdesverhouding? Die probleem van so ‘n benadering is dat dit ‘n skeiding meebring in ons innerlike wêreld. Dat dit wat God wil hê, altyd teen dit is wat ek wil hê. Wat ek wil hê is sleg en maak nie eintlik saak nie. Is dit moontlik dat God ons liefhet? Dat Hy intens belangstel wat in ons aan die gang is, en dat Hy ons wil gelukkig maak?

Doen dit:

Jy word genooi om jou begeertes te ondersoek, hoe gaan jy jou begeertes hanteer? Dink jy daaroor? Gee jy jou daaraan oor of beveg jy dit? Hy kom na ons toe en vra wat ons wil hê. Verwoord dit en deel dit met Hom.

Gebed om te herhaal:

Skep in my ‘n rein hart, o God.

Scripture

Day 26Day 28

About this Plan

kykNET Lydenstyd Gids 2023

Jy word genooi om die saligsprekinge van Jesus in jou lewe in te werk. Die Lydenstyd is dus ‘n tydperk om jou te vereenselwig met Jesus se lewe in lyding. Die saligsprekinge nooi ons om, saam met Jesus, op ‘n nuwe manier te lewe in ‘n wêreld van angs, vrees, onsekerheid en lyding. Dit is die pad wat min kies, maar Jesus het. Ons volg Hom deur lyding, na saligheid.

More