YouVersion Logo
Search Icon

kykNET Lydenstyd Gids 2023Sample

kykNET Lydenstyd Gids 2023

DAY 26 OF 39

Week 5: Reinheid

Dag 1:

Ek het jou te laat liefgehad, o skoonheid,
so oud en ook so nuut. Ja,
Ek het jou te laat liefgekry. Wat het ek tog geweet?
Jy was binne-in my en ek was
uit my liggaam en verstand
om jou te soek.
Ek het soos 'n lelike gekke gestry
teen die pragtige dinge en wesens
wat jy gemaak het.
Jy was binne-in my, maar ek was nie in jou nie ...
Jy het my geroep, geskree en die bak van my
doofheid gebreek; jy het jou balke ontbloot en na my gegooi
jy het my blindheid verwerp; en 'n geurige windjie
na my gewaai
Ek het my asem ingetrek, ek wou jou hê, het jou geproe
nou wil ek jou hê soos ek kos en water wil hê
Jy raak aan my en sedertdien brand ek om jou vrede te hê.
"I came to love you too late"deur St. Augustinus van Hippo
(Vrye vertaling)

"Die volgende dag het Johannes en twee van sy dissipels weer daar gestaan. Johannes het gesien Jesus loop verby. Johannes het hard gesê: 'Kyk, daar is die Lam wat God vir ons gee!' Die twee dissipels het gehoor wat Johannes gesê het. Daarom het hulle begin om Jesus te volg. Jesus het omgedraai en Hy het gesien hulle volg Hom. Hy vra toe vir hulle: 'Wat soek julle?' Hulle het geantwoord: 'Rabbi, waar woon U?' 'n Rabbi is iemand wat vir mense leer hoe om God te dien. Jesus sê toe vir hulle: 'Kom kyk!' Hulle het gegaan en hulle het die plek gesien waar Hy woon. Dit was omtrent vier-uur die middag. Hulle het daardie hele dag by Jesus gebly. Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee dissipels wat gehoor het wat Johannes gesê het en wat toe saam met Jesus gegaan het. Andreas het eers sy broer Simon gaan soek en hy het vir Simon gesê: 'Ons het die Messias gekry!' Messias beteken 'Christus.' Andreas het vir Simon na Jesus toe gebring. Toe Jesus vir Simon sien, sê Hy: 'Jy is Simon seun van Johannes. Jou naam sal nou Sefas wees.' Petrus is die Griekse woord vir Sefas. Die volgende dag het Jesus besluit om na die provinsie Galilea te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: 'Volg My!' Filippus het in Betsaida gewoon. Dit was dieselfde stad waar Andreas en Petrus gewoon het. Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: 'Moses het in sy boeke geskryf oor die Man wat sal kom, en die profete het ook oor Hom geskryf. Ons het Hom gekry! Sy naam is Jesus. Hy is die seun van Josef en Hy kom van die stad Nasaret.' Maar Natanael het vir hom gesê: 'Nasaret? Kan daar uit Nasaret iets kom wat goed is?' Filippus sê toe vir hom: 'Kom kyk!' Jesus het vir Natanael gesien nader kom en Hy het gesê: 'Hierdie man is 'n ware Israeliet! Hy is nie vals nie.' Natanael vra toe vir Jesus: 'Hoe weet U dit? Ken U my?' Jesus sê vir hom: 'Ek het jou daar onder die vyeboom gesien voordat Filippus jou geroep het.”'Johannes 1: 35-48 ABA.

Jou hart is die middelpunt, die kern, die plek waar alle funksies van ons wese bymekaarkom. Funksies soos jou denke, emosies, verbeelding, geheue, aanvoeling, liggaam, ens. Jesus sê as jou hart rein is, sal jy God sien.

Ek wil verwys na ‘n vroeë begrip in die kerk van hoe ons rein van hart kan wees. Die invalshoek of toegang tot die suiwering van jou hart is deur jou begeertes. Jou hart is rein en skoon as die oorheersende begeerte in jou lewe na God is. Die idee was dat ons moet oorgee en saamwerk sodat ons by die diepste verlange na Hom wat in ons is, kan uitkom en dit ons grootste begeerte in die lewe word.

In Johannes 1 sien ons hoe Jesus mense bygestaan het in die proses om hulle harte te suiwer. Hy nooi jou uit om te luister na jou hart, te ontdek wat jy regtig wil hê en om jou begeerte te verbaliseer en Hom te vra om jou te help. Die uitnodiging van Jesus is om op ‘n innerlike reis te gaan, met jou begeertes te werk, sodat jou hart gesuiwer kan word en dat jy God nou in alles in jou lewe kan sien.

“Gelukkig is almal wie se lewe van binne af nuut geword het. God sal sorg dat hulle Hom met hul eie oë sien” Matteus 5:8 (DB).

Geloofspraktyk vir die week:

Skryf ‘n brief aan God oor die begeertes van jou hart. Skryf daarna ‘n brief van God aan jou as reaksie op jou skrywe.

Scripture

Day 25Day 27

About this Plan

kykNET Lydenstyd Gids 2023

Jy word genooi om die saligsprekinge van Jesus in jou lewe in te werk. Die Lydenstyd is dus ‘n tydperk om jou te vereenselwig met Jesus se lewe in lyding. Die saligsprekinge nooi ons om, saam met Jesus, op ‘n nuwe manier te lewe in ‘n wêreld van angs, vrees, onsekerheid en lyding. Dit is die pad wat min kies, maar Jesus het. Ons volg Hom deur lyding, na saligheid.

More