kykNET Lydenstyd Gids 2023Sample
Week 5: Reinheid
Dag 3: Wat wil jy regtig hê?
“Gelukkig is almal wie se lewe van binne af nuut geword het. God sal sorg dat hulle Hom met hul eie oë sien” Matteus 5:8 (DB).
Christus nooi ons uit om op ‘n innerlike reis te gaan, deur na ons harte te luister en uit te vind waarna ons regtig soek. Dink daaroor en verwoord dit. Wanneer jy op hierdie reis gaan, gaan jy dadelik uitvind dit is nie so maklik om te bepaal wat jou begeertes regtig is nie.
Eerstens: Jy het baie begeertes. Daar is fisiese, emosionele en geestelike begeertes. Hierdie begeertes is baie keer teenstrydig. Ek wil eerlik wees, maar ek wil ook gewild wees. Ek wil niemand seer maak nie, maar ek wil die waarheid praat. Ek wil gesond wees, maar ek wil nie oefen en reg eet nie.
Tweedens: Jy gaan ook uitvind dat jou begeertes selfs groter begeertes insluit. Dit wat ek dink ek wil hê is nie regtig wat ek wil hê nie. Daar is groter begeertes agter die begeertes wat ek het. Ek wil byvoorbeeld ‘n huis hê, maar wat ek eintlik soek is sekuriteit of gemak.
Die dissipels het nie altyd geweet wat hulle regtig wil hê nie. Hulle het Jesus gevra om vir hulle te wys waar Hy bly. Later het hulle besef hulle gee nie om oor sy blyplek nie, hulle eintlike soeke is na Hom.
Doen dit:
Hier is ‘n paar oefeninge wat dalk kan help om in kontak te kom met dieper begeertes in jou.
- Jou dagdrome kan vir jou ‘n aanduiding gee.
- Die mense wat jy bewonder kan vir jou ‘n aanduiding gee.
- ‘n Refleksie op die hoogte- en laagtepunte van jou dag kan vir jou ‘n aanduiding gee.
Kies ‘n oefening en deel jou ervaring met Hom.
Gebed om te herhaal:
Skep in my ‘n rein hart, o God.
Scripture
About this Plan
Jy word genooi om die saligsprekinge van Jesus in jou lewe in te werk. Die Lydenstyd is dus ‘n tydperk om jou te vereenselwig met Jesus se lewe in lyding. Die saligsprekinge nooi ons om, saam met Jesus, op ‘n nuwe manier te lewe in ‘n wêreld van angs, vrees, onsekerheid en lyding. Dit is die pad wat min kies, maar Jesus het. Ons volg Hom deur lyding, na saligheid.
More