YouVersion Logo
Search Icon

Gemaak Vir …Sample

Gemaak Vir …

DAY 10 OF 12

Dag 10

Die opvoedkundige sielkundige, Erikson, het gesê: “Man has to teach.” Hy sê, as jy die besluit neem om nie vir die res van jou lewe te groei nie, en net op jouself gerig wil wees, wat kan jy voortbring? Wat kan jy bydra?

Dit is die teelaarde vir baie van ons geestesgesondheid uitdagings. Jy het dit nodig. Ek dink dis iets wat die boek Genesis vir ons sê van hoe God ons gemaak het. Ons is gemaak vir ʼn ek-U verhouding, om dieper in die lewe te gaan. Ons is gemaak vir ʼn ek-jy verhouding, om nader na mekaar te beweeg. Ons is gemaak vir ʼn ek-dit verhouding, om verder te gaan met ons lewens, om buite onsself te leef. En as een van hierdie dimensies ontbreek, ontbreek daar ʼn groot aspek van jou lewe. Al het jy ʼn verhouding met die Here, is dit nie genoeg nie. Jy moet jou lewe saam met ander mense deel. Dis ook nie genoeg nie. Jy moet iets doen met jou lewe. Jy moet iets tot stand bring met jou lewe.

Hier is dus vandag die uitnodiging — om te kyk. Dis een van die eerste opdragte wat die Here vir die mens gegee het nadat Hy hom gemaak het. Kyk! Kyk! Na wat? Wel, in die eerste plek, na bo. Jy is gemaak. Genesis sê: “Laat Ons mense maak na Ons beeld.” Dis wat God gesê het.

God sê “Ons” — Die Vader, die Seun en die Heilige Gees het ʼn gemeenskap. Hulle praat met mekaar en hulle het ʼn band tussen mekaar. Daardie band kan die beste beskryf word in een woord — liefde. God is liefde. Uit daardie wisselwerking, uit daardie gemeenskap, het die idee ontstaan om te skep. Alles wat gemaak is, kom uit liefde.

Dink vir ʼn oomblik daaroor na — as dit die beeld van God is, is jy in jou diepste diepste wese liefde, het jy die kapasiteit om lief te hê, is daar in jou ʼn verlange, soos by God, om te kan skep en om tot stand te bring.

God het nie geskep omdat Hy eensaam is nie. God het nie geskep omdat Hy ʼn behoefte het nie. God het geskep omdat Hy ʼn begeerte het, omdat liefde wil gee en wil deel. Dis die diepste essensie van jou menswees. God is kreatief. Ons is kreatief. Soos Hy wil ons orde bring uit chaos.

Is dit nie maar op ʼn manier wat ons met alles wat ons doen probeer nie? ʼn Haarkapper, 'n rekenkundige, ʼn verpleegster, ʼn leraar — wat ons ook al doen, is om uit dit wat deurmekaar is, helderheid te bring, orde te bring en iets te doen. Dis kreatiwiteit en om iets te skep.

Day 9Day 11