Die Belangrikheid Van GebedSample
Bid vir Jou Gemeente en die Kerk
Lees: Matteus 16:18; Filippense 1:9–11; Die Openbaring 2:4
SOAP: Filippense 1:9–11
Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.
Oordenking
Alhoewel dit belangrik is om vurig te bid vir ons verhoudinge, ons gesinne, ons kinders en ons vriende, is dit uiters belangrik dat ons daagliks vir ons plaaslike gemeente en die kerk bid. Die kerk is die verteenwoordiger van God in die wêreld. Die Heilige Gees werk in en deur die kerk om mense met die evangelie te bereik. Die kerk is nie individue nie, maar een liggaam wat saamwerk om Christus bekend te maak.
In Openbaring 2:4 vind ons Johannes se brief aan die gemeente in Efese. Die gemeente in Efese het van hulle eerste liefde afgewyk: Jesus Christus. In ons gebede vir die kerk kan ons bid vir volgehoue liefde en 'n diep verhouding met Jesus. As sy kerk, moet ons in Hom bly, ongeag wat dit ons kos.
In Paulus se brief aan die Filippense vind ons 'n voorbeeld van wat ons vir ons plaaslike gemeentes kan bid. Paulus het gebid dat die gemeente in Filippi sou toeneem in hul kennis en onderskeidingsvermoë sodat hulle Christus kon volg. Hy het gebid dat hulle geregtigheid oorvloedig sou wees sodat hulle Jesus Christus met die wêreld kon deel totdat Hy terugkeer.
Christus is die hoof van die kerk en daarom loop die kerk nie die gevaar om deur die vyand verslaan te word nie. Tog moet ons steeds vurig bly in gebed. Christus het reeds die oorlog gewen, maar ons moet deurentyd vir die kerk bid. Terwyl ons onsself voorberei op sy wederkoms, mag ons as die kerk opreg en onberispelik bly totdat Hy kom.
Gebed
Jesus, ek dra vandag die kerk aan U op. Laat u bruid voortdurend 'n getuie aan die wêreld wees van u liefde en krag. Ek bid vir my plaaslike gemeente dat ons 'n lig in ons gemeenskap sal wees. Maak ons meer soos U en voorkom dat ons van U afvallig raak. Beskerm ons harte en gedagtes terwyl ons probeer om as 'n liggaam heilig te word en meer soos U te word. Amen.
Scripture
About this Plan
As jy graag nader aan jou Verlosser wil kom deur gebed ‘n prioriteit in jou lewe te maak, dan is Die Belangrikheid van Gebed vir jou. Ons gaan tyd deurbring in God se Woord, antwoorde kry op vrae oor hoe ons moet bid, hoe om gebed ‘n prioriteit te maak en hoe God gebed verhoor. Mag God deur hierdie studie ons oë oopmaak vir die wonder en voorreg van gebed.
More