Die Belangrikheid Van GebedSample
Oneindig Meer As Wat Ons Bid Of Dink
Lees: Johannes 1:16; Efesiërs 3:20–21
SOAP: Johannes 1:16; Efesiërs 3:20
Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang
Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink.
Oordenking
God het ons deur Christus oneindige seëninge gegee. Ons het baie genadegawes ontvang uit die volheid van wie Christus is, die Seun van God. Nie net dit nie, die gawes wat Hy aan ons gee, is ver bo alles wat ons kan bid of dink. Hy gee ons nie net hierdie wonderlike gawes nie, maar Hy verhoor ons gebede op maniere wat ver bo alles is wat ons kan begryp. God gee Homself mildelik aan ons. Hy het sy Seun, sy Gees, sy liefde en sy teenwoordigheid aan ons gegee.
Uit die oorvloedige gawes wat God ons gegee het, word ons geroep om ook ‘n ruimhartige hart te hê. Ons moet alles wat aan ons gegee is, met ander deel. As ons gee, as ons ‘n ruimhartige lewe lei, weerspieël ons lewens die ruimhartigheid van ons God. God word verheerlik as ons gee uit die oorvloed wat Hy aan ons gegee het. Dit beteken nie altyd geld, tyd of talente nie: ons kan deernis, genade, geduld, liefde en vreugde aan ander gee uit die oorvloei van wat ons deur Christus gegee is.
Opoffering van ons liefde, gebede, geld, tyd en talente toon hoe ons vertrou dat die Here in elke behoefte sal voorsien. As ons ons hulpbronne en seëninge vashou, beperk ons wat God vir ons sal doen. As ons ruimhartig is met dit wat in elk geval aan God behoort, laat ons ruimte vir Hom om ons te verras, om verder te gaan en meer te gee as wat ons kan bid of dink.
Is daar areas in jou lewe waar jy God se ruimhartigheid kan weerspieël? Sal jy vandag vir God vra om jou te help vertrou dat Hy alles wat jy weggee, sal aanvul?
Gebed
Vader God, U is my ruimhartige Voorsiener. Here, vergewe my as ek dinge van U en van u mense weerhou. Here, vergewe my as ek toelaat dat twyfel en vrees my verhinder om U alles te gee, om op te offer en te deel. Dankie, Here, dat U steeds voortgaan om oor en oor in my lewe in te stort, ondanks my mislukkings en my vrees. Dankie dat U alles mildelik, onbaatsugtig en onvoorwaardelik aan my gegee het. In die Naam van Jesus, amen.
Scripture
About this Plan
As jy graag nader aan jou Verlosser wil kom deur gebed ‘n prioriteit in jou lewe te maak, dan is Die Belangrikheid van Gebed vir jou. Ons gaan tyd deurbring in God se Woord, antwoorde kry op vrae oor hoe ons moet bid, hoe om gebed ‘n prioriteit te maak en hoe God gebed verhoor. Mag God deur hierdie studie ons oë oopmaak vir die wonder en voorreg van gebed.
More