YouVersion Logo
Search Icon

Die Belangrikheid Van GebedSample

Die Belangrikheid Van Gebed

DAY 25 OF 43

God Onthou 

Lees: 1 Samuel 1:1–20 

SOAP: 1 Samuel 1:10, 19–20 

Sy (Hanna) was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil.

Die volgende môre het Elkana-hulle vroeg opgestaan, die Here aanbid en teruggegaan huis toe. Nadat hulle tuis gekom het in Rama, het Elkana gemeenskap gehad met sy vrou Hanna, en die Here het aan haar gedink. By die wisseling van die jaar was Hanna swanger. Sy het 'n seun in die wêreld gebring en uitgeroep: “Sy naam is Samuel: van die Here het ek hom afgesmeek!”


Oordenking

Hanna het die Here vurig om ‘n kind gevra. Haar man het haar liefgehad, en daar is na haar omgesien en vir haar voorsien. Pennina, Elkana se tweede vrou, het egter baie kinders gehad en sy het elke dag vir Hanna oor haar onvrugbaarheid gespot. Hanna het nie net die verlange en afwagting in haar eie hart verduur nie, maar ook die skaamte en vernedering van ander.

Tog, selfs in haar nood, het Hanna getrou gebly aan die Here. Sy het aangehou om Hom te soek, vol vertroue dat alleenlik Hy haar situasie kon verander, dat alleenlik Hy haar diepste begeerte kon vervul. Alhoewel sy so hartseer was dat sy nie eens kon eet nie, het Hanna die Here gesoek. Sy het haar hart by Hom uitgestort. Hanna het nie probeer om haar begeertes of haar teleurstelling van God af weg te steek nie. Sy het voor Hom kom staan en by Hom gesmeek om haar lyding raak te sien en vir haar ‘n kind te gee.

God het aan Hanna gedink. Sommige vertalings sê dat God Hanna onthou het. God het nooit van haar vergeet nie, maar Hy het haar nood onthou en het op so ‘n manier beweeg om haar lyding te verlig. God het aan Hanna se versoek voldoen om ‘n kind te hê toe sy opreg tot Hom gebid het. God het alleenlik uit sy goedheid Hanna se gebed verhoor.

God is getrou, en Hy verhoor gebede. Ons kan volhard in ons gebede tot Hom, Hom voortdurend soek en vir Hom die begeertes van ons harte vra. Solank ons God nader met ‘n houding van aanbidding en nederigheid en onthou dat Hy ‘n heilige God is, kan ons eerlik en opreg wees oor ons begeertes. Al antwoord Hy ons nie soos Hy vir Hanna geantwoord het nie, is daar meer seëninge in gebed as bloot die antwoord. Die seën van gebed is gesetel in die vermoë om weerloos en openhartig voor die Here te staan, om met Hom te praat en ons harte aan sy voete neer te lê.

Gebed

Vader God, U is die God wie se liefde vas bly staan deur elke situasie. Here, help my om te volhard wanneer ek glo dat ek niks anders oorhet nie. Help my om aan te hou om U te loof en prys wanneer ek dalk nie u werk sien nie. Herinner my dat U nooit sluimer of slaap nie, maar baie aktief aan die werk is in my lewe. In die Naam van Jesus, amen. 



Day 24Day 26

About this Plan

Die Belangrikheid Van Gebed

As jy graag nader aan jou Verlosser wil kom deur gebed ‘n prioriteit in jou lewe te maak, dan is Die Belangrikheid van Gebed vir jou. Ons gaan tyd deurbring in God se Woord, antwoorde kry op vrae oor hoe ons moet bid, hoe om gebed ‘n prioriteit te maak en hoe God gebed verhoor. Mag God deur hierdie studie ons oë oopmaak vir die wonder en voorreg van gebed.

More