YouVersion Logo
Search Icon

Die Alfabet Van OorvloedSample

Die Alfabet Van Oorvloed

DAY 7 OF 7

Lig

Lees 2 Samuel 22:29

Oordenking

Onverwags word die krag afgesit. Ek sit voor my rekenaar, druk besig met ’n dringende dokument wat môre ingelewer moet word.

Die skielike donkerte laat my magteloos en gefrustreerd voel. Daar is niks wat ek kan doen nie. Ek kan bloot wag totdat die krag weer aankom. Voel-voel steek ek ’n kers aan en stap kombuis toe, maak ’n kastrolletjie vol water en luister na die gasstoof se sis-geluid.

Bekende reuke uit my kleintyd kom verby: die vuurhoutjie se vlugtige swawelreuk, die effe-suur van die gasvlam. Teen die kombuismuur beweeg lang, lui skaduwees.

Ek word rustig. Die dringende werk skuif al hoe verder uit my gedagtes.

Dikwels maak donkerte ons bang, en onseker van onsself. Ons wil sien. Ons wil in beheer wees. Ons wil sélf besluit. Sélf ons lewe bestuur. Ons eie planne maak.

Die donkerte vul ons met ’n somberte, selfs met ’n vrees vir die toekoms. Wat van ons land? Ons kinders? Ons veiligheid? Ons lê wakker, swewend tussen bid en dink. Ons gedagtes neem afdraaipaaie en syspoortjies. Heen en terug. Vorentoe en agtertoe. Om en om. Loop hulle later vas in ’n digte swartgroen labirint. Sonder uitsig na enige kant.

Christene het ’n verantwoordelikheid om in God se lig te leef sodat dit ons verhelder. Sodat ons dit weer na ander kan uitstraal. Ons, God se kinders, is self lampe wat Christus se glansende lig moet versprei. Die lig van daardie lampe moet uit ons gesig en hart en lewe straal sodat die donkerste uithoeke van die wêreld verlig kan word.

Stilword

Here, ek weet dat U ook in skadutye by my is, omdat U die Lig is. Here, wees my Lig, my Lamp, die Een wat die donkerte verdryf. Here, wees U my Lig wanneer daar duisternis is. U is die Lig vir die wêreld. Mag ek altyd u lig uitstraal. Lig, lewe, genade en liefde. Amen.

GRATIS HOOFSTUKKE

Hierdie groeiplan is ’n verwerking van gedeeltes uit Die alfabet van oorvloed van Lizette Murray. Laai gratis hoofstukke van die boek hier af: https://eshop.bybelmedia.org.za/youversion/. Ons hoop dit sal jou inspireer op jou geloofsreis. Kontak ons gerus by info@bmedia.co.za.

Day 6

About this Plan

Die Alfabet Van Oorvloed

’n Oorvloed lewenservarings vertel van die genade wat God vir jou het. Dié groeiplan maak jou bewus van hierdie ervarings. Dit wys vir jou dat jy in die gewone loop van ’n dag ook genade kan vind. Maak vir jou ’n koppie koffie of tee en word stil by God. Laat die gloed van sy teenwoordigheid deursyfer tot teen jou vel, tot in jou hart en in jou gedagtes.

More